top of page

Die storie agter die storie ...

Updated: Aug 22, 2023



Lank gelede, toe ek omtrent vyf jaar oud was, het my hele familie een jaar ‘n langspeelplaat vir Kersfees gekry. (Ek gee seker my ouderdom weg want ek glo nie enigiemand onder veertig weet meer wat ‘n langspeelplaat is nie! ) Wel, dis nou almal in ons gesin, behalwe ek. My ouers het gedink ek is te klein om ook een te waardeer en het ek eerder inkleurboeke en -kryte gekry. Moet my nie verkeerd verstaan nie: Ek was mal oor my geskenk, soos hulle geweet het ek sou wees want dis tog wat ek heeldag gedoen het. Maar, ek het uit gevoel, anders, en nie deel van die gesin van agt nie.


My pa was egter ‘n baie sensitiewe man en het gou agtergekom dat sy jongste nie so entoesiasties was oor die inkleurboek soos gewoonlik nie en het vinnig uitgevind wat pla. Hy kon mens lekker heuning om die mond smeer en hy het my vertel dat hy kwansuis juis daardie plaat gekies het want hy het gedink ek sou daarvan hou en hy wou dit met my deel. Ek onthou die plaat so goed: so perserige een met ‘n man se silhoeët voorop. Die kunstenaar? Kenneth McKellar.

Ek kon vir ure luister na die Skye Boat Song en Bluebells of Scotland. Ek dink ek het toe al verlief geraak op Skotland. Net soos Kayla was ek die meisie wat sommer nostalgies geraak het wanneer ek na die Flower of Scotland geluister het.


En ja, ek het ook die woorde geken. Ook die lirieke van die Skye Boat Song en Bonny Banks of Loch Lomond.


En toe, amper dertig jaar later, het ek my eie Skotse ‘lad’ ontmoet. Ek glo dit was kismet.


Vandat ek my man ontmoet het, het ons gereeld Skotland besoek, en het al ‘n paar keer vir ‘n jaar op ‘n slag daar gebly. En toe word ek een nag wakker met die frase “My Secret Life with Unicorns”, en die toneel waar Kayla en Gavin in die woud ontmoet het. Moenie my vra hoekom nie. Ek het opgestaan, dit gaan tik en dit daar gelos. In die weke daarna het ek gereeld ‘n toneel gedroom, dit aan die einde gaan byvoeg en dit weer net gelos. Dit sluit byvoorbeeld die eerste soen in en ook toe Gavin vir Kayla gevra het waar sy vandaan kom. Net sulke proeseltjies hier en daar tot ek uiteindelik ‘n idee gekry het waarheen die storie gaan. Tog, dit het my drie jaar geneem om die storie klaar te maak. Ek moes baie navorsing doen, maar daar is tog genoeg van my verbeelding vervleg in die feite.


Wanneer jy die boek lees, sal jy verstaan hoekom die Engelse titel van die blog “My Secret Life with Unicorns” was. In Afrikaans het dit net nie gewerk nie. Dit was, terloops, ook die oorspronklike titel van die Engelse boek, maar mense het gedink dis ‘n fantasie-verhaal dus moes ek dit duidelik maak dat dit ‘n liefdesverhaal is. ‘n Liefdesverhaal so soet dat jou tande sommer gril, maar ook ‘n liefdesverhaal wat gaan oor verliese en hartseer maar ook ‘n soeke na bande wat bind en gelukkige eindes.


Dis nie altyd so maklik om kontemporêre liefdesverhale te skryf as wat dit lyk nie. ‘n Mens moet baie navorsing doen en ook realiteit met fiksie kombineer. Dit is presies wat ek met hierdie storie moes doen. Ek moes na net genoeg feite verwys om dit werklik te maak, maar ook my eie storie opmaak. Daar is byvoorbeeld regtig ‘n program in Brittanje op ITV soos dié waarna ek in die boek verwys: Long Lost Family


Daar is dienste waar jy jou geskiedenis deur middel van DNA-toetse kan navors, soos 23andMe en andere. Daar is ook webblaaie waarna ek in die Engelse boek verwys het soos www.visitScotland.com en http://www.magicalunicornsociety.co.uk.


Natuurlik is daar regtig van die vanne soos ek in die boek gebruik. Daar is selfs kastele en ‘lords’ soos ek gebruik. Byvoorbeeld, as jy op die internet gaan soek, sal jy wel ‘n Earl of Crawford kry en hy bly regtig in ‘n kasteel, maar hy is nie my lord Crawford nie en bly ook nie in dieselfde kasteel wat aan Gavin se familie behoort het nie. Toe ek egter van hom uitvind was ek al so ver in die storie in dat dit te veel sou verander aan my storie as ek die van, en die titel en die kasteel en die dorp en die omgewing moes verander. Ek glo darem nie hy sal omgee nie want daar is niks in my storie wat maak dat iemand hom sal verwar met my Gavin nie.


Natuurlik kry mens baie unicorns in Skotland. Dis mos die nasionale dier van Skotland en verskyn in die wapenskild. Daar is een in Springburn Park in Glasgow soos ek in die boek genoem het en die tapisserie in Stirling-kasteel bestaan regtig. Ek het ook ander gekry soos ‘n fantastiese muurskildery in die Shilling Brewing Company in West Georgestraat, Glasgow, en ook een in die Feesdorp in Wilsonstraat.


Van die dorpe bestaan wel, maar jy gaan nie die presiese dorp kry met dieselfde beskrywing, die presiese kasteel en die landmerke en die mense wat daar bly nie, want dit bestaan nie regtig nie. Ek het so ‘n paar dorpe, lords en kastele bymekaar gevoeg om my perfekte plek en karakters te skep.


As jy verder gaan navorsing doen sal jy dalk uitvind dat Craufurd en Maghlinn die ou Skotse spelling is vir Crawford en Mauchline, beide dorpe wat wel bestaan, maar nou nie presies waar ek hulle geplaas het nie. Ek was maar vaag daaroor. Dit is wel in Ayrshire aan die weskus van Skotland. Dit is tussen Ayr en Mauchline, maar ek belowe jou daar bestaan nie ‘n dorpie daar met die beskrywing wat ek gegee het nie.


Hoekom Ayrshire en nie die Hooglande nie? Dis tog ‘n beeld wat almal voor hulle sien as jy van Skotland praat. Want Ayrshire is bekend vir al die suiwelplase en die Ayrshire koeie. Ek kon natuurlik ook Aberdeenshire gebruik het, maar Ayrshire was die naaste aan ons toe ons in Glasgow gebly het.


Om eerlik te wees? Ek wou gehad het dat Gavin ‘n skaapboer moes wees, maar dan moes ek die skape doodmaak en ek wou dit nie doen nie. As ek nie daarvan hou nie, dink ek Kayla sou die hasepad gekies het. Ek het daarom eerder melkboerdery gekies want dan hoef ek niks dood te maak nie – behalwe die ‘wee beasties’.


Die storie begin met ‘n paar blog-inskrywings. Moenie moed verloor nie. Ek gebruik die blog inskrywings om Kayla se verlede vir julle te vertel vandat sy sewentien was. Julle sal agterkom dat ek nie ‘n jaartal by die blog inskrywings het nie want dit sou die storie dateer. Ek wil hê mense moet die storie nog oor tien jaar kan lees, sonder om te dink dis antiek, wat sal gebeur as mens die jaartalle bysit. Ek het net ‘n paar blog inskrywings ingesit – ek het selfs van dié wat in Engels verskyn het, uitgehaal. Ek kon tog nie tien jaar se blog-inskrywings insit nie. Dit sou darem baie vervelig wees en dit sou ‘n ewigheid neem om by die regte storie uit te kom.


Julle mag ook wonder: as die storie in Skotland afspeel en al die karakters, behalwe Kayla, Skots is, hoekom het ek dit nie so geskryf dat jy kan hoor of sien hulle is Skots nie?


Want, die tyd wat ons in Skotland gebly het en ek elke dag met Skotte te doen gekry het, het ek besef dat nie al die Skotte dieselfde klink nie. Nie almal praat Gaelic of Dories of selfs Skots nie. Maar, al klink hul anders, skryf hulle die woorde met dieselfde spelling as hulle landgenote in Engeland – en ons. Maar dis die lekker ding van verbeelding: jy hoef mos nie die woorde te sien om jou verbeelding as leser te gebruik nie. Julle hoor ook mos die karakters in julle koppe? Of is dit net ek?


Die Afrikaanse storie is merendeels in Afrikaans. Daar is egter een klein deeltjie in die poskantoor waar die gesprek in Engels plaasvind. Dit sou die hele ‘effek’ van die storie verander as ek dit vertaal het. Aangesien Kayla nie deel was van daardie gesprek nie, het ek die dialoog in Engels gelos. Ek het ook hier en daar in die boek ‘n paar Skotse woorde gelos.


Ongelukkig bly alle Skotte ook nie in kastele nie, en drink hulle nie heeldag whisky, woon deur die dag ceilidh’s by en dra kilts nie. Ek wens hulle wou maar ongelukkig nie, veral die kilts dra. Terloops, as jy nie weet wat ‘n ceilidh is nie, dis ‘n informele sosiale byeenkoms wat dans, sang en storie vertelling insluit. Veral die sing en dans. Al kan jy nie, sing jy.


En, net vir interessantheid: daar is van my eie ondervindings wat ek in die storie ingewerk het. Soos Kayla, is ‘n woud my gelukkige plek en is ek altyd op soek na woude. Net soos Kayla het ek een dag in die woud gaan skryf toe ‘n klein rooi spinnekoppie oor my leliewit papier hardloop. Die res sal jy lees in die boek, maar ja, ek het genoeg gehad van wee beasties daarna.


Daar is ander ook. Ek wonder of julle gaan uitwerk waar in die boek ek dit gebruik het.


Ek hoop julle geniet Kayla en Gavin se storie net soveel as wat ek dit geniet het om te skryf.


Lekker lees!


Francine



 






















17 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page