top of page

Die Klankbaan in my kop

Musiek het 'n manier om ons direk in 'n spesifieke emosie of herinnering te dompel. As skrywer vind ek dit fassinerend hoe 'n enkele liedjie 'n hele storie kan inspireer of 'n karakter se diepte kan verryk. Alhoewel ek nie musiek speel terwyl ek skryf nie—die versoeking om 'n solo-optrede met my pen as mikrofoon op te voer is net te groot—gebruik ek dit dikwels voor ek begin skryf om myself in die regte gemoedstoestand te plaas.

 

Neem byvoorbeeld Elvis Presley se "Love Me Tender" die romantiese toon vir "My Liedjie Vir Jou" bepaal, wat my gehelp het om die diepte van die karakters se gevoelens oor te dra.

 

Soms kies my onderbewuste egter 'n liedjie wat op die oog af geen sin maak nie. Terwyl ek aan "Daniel se Dilemma" gewerk het, het Ronan Keating se "Falling Slowly" aanhoudend in my kop gespeel. Die lirieke en melodie het Daniel se interne stryd en emosies perfek weerspieël, selfs al het ek dit nie aanvanklik beplan nie.


Vir "’n Kans vir Christopher" was daar twee liedjies wat my geïnspireer het: Kenny G se "The Wedding Song" en Faith Hill se "Breathe". "The Wedding Song" is daardie liedjie wat ek gebruik het in plaas van die gewone troumars—’n stil, instrumentale oomblik wat my toneel net perfek gemaak het. "Breathe" was weer die een wat my help voel het wat Christopher voel. Tussen die twee het hulle daardie hele storie se ritme bepaal.

 

En dan was daar "’n Meisie vir Mark". Terwyl ek aan sy storie gewerk het, het Édith Piaf se "La Vie en Rose" my gedagtes oorheers. Die Franse chanson het 'n unieke, nostalgiese sfeer geskep wat perfek by Mark se karakter en sy soeke na liefde gepas het.

 

"Richie en die Rooikop" is maklik – toe Richie vir Sarah gevra het om te trou, het "A Thousand Years" van Christina Perri in my kop gespeel. En nee, ek het nie gehuil nie. Ek moes net elke nou en dan my sleutelbord afvee.

 

En toe skryf ek "Kans vir Liefde" vir die ROSA-bundel Songs of Summer. En wat speel toe soos ’n oorwurm in my kop? Ed Sheeran se "Perfect". En toe gebeur dit weer met "’n Man soos Pierre" – en nou dat ek daaraan dink, albei stories het iets te doen met ballet. Dalk is dit al daardie TikTok trouvideo’s wat ek gekyk het, met die bruid en bruidegom wat ’n hele gesinchroniseerde dans doen voor ouma, tannie Lettie en die fotograaf.

 

Kersfees by die Huis: “As Ek Maar ’n Digter Was" deur Kupido. Hierdie liedjie het nie net die storie geïnspireer nie – dit is deel van die storie. Dit speel ’n baie besondere rol in die verloop van die storielyn. Maar jy sal die boek moet lees om regtig te verstaan wat ek bedoel.

 

Musiek dien dus nie net as inspirasie nie, maar ook as ’n brug tussen my en my karakters se wêreld. Dit help my om hul ervarings en emosies meer intiem te beleef, wat ek dan hoop om op ’n egte manier aan lesers oor te dra. Volgende keer as jy ’n boek lees, probeer om jou eie klankbaan vir die karakters te bedink. Dit voeg ’n nuwe dimensie tot die leeservaring by. En vir my mede-skrywers: moenie die krag van musiek as ’n muse onderskat nie. Net wees versigtig—jy mag dalk net betrap word waar jy in jou studeerkamer dans met ’n pen as ’n denkbeeldige mikrofoon.

Comments


© 2020 by francinebeaton. All Rights Reserved.

  • Facebook
  • Twitter
  • YouTube
  • Pinterest
  • Instagram
  • Amazon
icons8-goodreads-50.png
icons8-bookbub-30.png
bottom of page