My karakters is dramakoninginne. En ek's net hier vir die reis
- Francine Beaton
- May 16
- 2 min read

Ek is nie 'n beplanner nie. Ek probeer. Regtig. Maar ek is nie. Ek is 'n "planser". Ek beplan die reeks. Ek weet wie die karakters is en waarheen hulle gaan. Ek weet ook hier en daar wat gaan gebeur. En dan?
Sonder waarskuwing begin my hoofkarakter, wat veronderstel is om 'n rustige, introverte bibliotekaresse te wees, 'n argument met haar beste vriend. Nie net 'n klein meningsverskil nie, maar 'n volle uitbarsting van emosies. Ek staar na die skerm en wonder: "Waar kom dít nou vandaan?"
Neem byvoorbeeld Jakes in Jakes se Geheim. Ek het beplan dat hy na New York sou gaan—ek was immers daar en ken die omgewing so effens. Maar toe ek my oë uitvee, het hy op 'n vlug na Denver geklim. Dit was nie deel van my plan nie, maar hy het sy eie idees gehad. Miskien kon ek vir hom ‘n ander vlug gekry het maar ek het besef: daar is ‘n rede hoekom hy Denver toe is en nie New York nie. Want sien, Angie was in Denver. En Denver is die eerste stad in Amerika gewees wat spesifiek ‘n stadion gebou het vir rugby. Regtig.
Welkom in die wêreld van skryf, waar karakters hul eie wil het en skrywers soms net passasiers is op hierdie wilde rit. Dit is soos om 'n klomp voorskoolse kinders te probeer beheer – net wanneer jy dink almal is rustig en besig, besluit een om 'n woede-uitbarsting te hê in die middel van die supermark.
Ek het geleer om hierdie verrassings te aanvaar. Wanneer 'n karakter besluit om sy of haar eie pad te loop, beskou ek dit as 'n teken dat hulle lewendig en eg is. Dit bring 'n nuwe dimensie tot die storie en dikwels lei dit tot onverwagte, maar welkome, wendings.
Maar kom ons wees eerlik, dit kan ook frustrerend wees. Jy het 'n plan, 'n struktuur, en nou moet jy dit alles hersien omdat 'n denkbeeldige persoon besluit het om 'n ander koers in te slaan. Op hierdie tye herinner ek myself: ek is net die tikster, hulle is die baas.
So, aan al my mede-skrywers daar buite wat voel dat hul karakters soms die leisels oorneem – jy is nie alleen nie. Sit terug, neem 'n sluk koffie, en laat die drama ontvou. Soms is dit in daardie chaotiese oomblikke dat die beste stories gebore word.
Comments