Ek werk hard. Aan Uitstel
- Francine Beaton
- Apr 28
- 2 min read

Ons is al diep in April. Bella en die Buffel? Daai boek moes al lankal in Maart klaar gewees het. En kom ons los maar liewer die gesprek oor Purr-fekte Valentyn. Die Engelse weergawe het ek darem nog in Februarie gepubliseer—whoop whoop. Die Afrikaanse een? Ja nee… wag nog. Hy is klaar. Net nie klaar-klaar nie. Want ek wil natuurlik nog daai een keer weer dit gaan. Wat twee keer word en toe drie. En dalk net ’n ander kleur op die voorblad probeer. En net gou...
Dan is daar my twee Engelse boeke wat nou wel afgehandel is, maar natuurlik nie sonder ’n bietjie drama nie. Toe ek die een skryf, besef ek ewe skielik: Hierdie boek hoort eintlik in daardie ander reeks. En toe moes ek die hele storiebybel verander. So nou is daar ’n splinternuwe reeks-bybel in die prentjie. En omdat ek nou boeke tussen reekse skuif, moes ek natuurlik nuwe voorblaaie ontwerp. En toe moes ek sommer nog ’n storiebybel skryf vir boek twee.
En soos dinge maar gaan… kry ek toe ’n idee vir ’n derde boek. Julle weet mos. Jy skuif een ding, en voor jy jou oë uitvee, het jy die hele huis herontwerp.
Intussen het ek, op een of ander manier wat ek self nie heeltemal kan verklaar nie, drie Afrikaanse nie-fiksie boeke geskryf. Drie. Dis soos wanneer jy net melk wou gaan koop, en terugkom met veertien pakkies spesiale aanbiedinge, ’n blik koekies en ’n plant.
En dan het ek natuurlik ook besluit om ’n paar Facebook-groepe te begin. Want hoekom nie? Maar as jy die admin is, dan admin jy mos. Jy maak plasings, betrek mense, en ja, jy stel reëls op—selfs al het jy nie eens tyd gehad om jou koffie klaar te drink nie.
Maar weet jy wat?
Ek het darem iets gedoen. Baie eintlik. Al was dit nie noodwendig die “regte” take op my lysie nie. Ek het vorentoe beweeg. Ek het dinge geskep. Ek het geskryf.
En Mei?
Wel, ek vat af. Regtig af. Die eerste twee weke is vir my kind se gradeplegtigheid, saam kuier, nuwe plekke ontdek, en ja—sekerlik bietjie te veel eet en wyn drink. Maar dis navorsing. Alles is navorsing as jy ’n skrywer is.
Selfs die wyn.
Verál die wyn.
Comments