top of page

Waar speel my stories af?

Updated: Jul 24

“’n Boek se omgewing is meer as net agtergrond – dis deel van die storie se siel.” - wikiHow
ree

Dis waar. 'n Leser wil nie net weet waar jou boek afspeel nie – hulle wil dit beleef. Maar dis belangrik dat jy nie soos ’n toerleier klink nie. Ek het al so ’n boek gelees... en natuurlik nie klaargemaak nie.

 

Een van die grootste komplimente wat ek nog gekry het, was ná my debuutroman. ’n Leser het gesê sy was saam met my in Denver, tussen die berge. Ek moes toe maar erken: ek was nog nooit daar nie! Die oorspronklike plan was om ‘n deel van die boek in New York te laat afspeel, want ek was al in New HYork. Maar toe besluit Jakes nee wat, hy vlieg Denver toe. Of miskien het hy dalk net ‘n verkeerde vlug geneem maar toe móés ek saam Denver toe. Só gebeur dit soms: jy beplan een ding, en jou karakter kies ’n ander pad.

 

Nog iemand het my vertel hoe hulle gehou het van die koffiewinkel in Kinkels en Koffie. Joe’s bestaan nie regtig nie – maar ek droom al jare daarvan om so ’n plek oop te maak: koffiewinkel, boekwinkel, leeshoekies. Eendag, dalk...


 

Pad na Glorie-reeks – Welkom in die Jakarandastad

ree

Pretoria – met sy pers Jakarandas en rugbybloed in die strate – is die hart van my Pad na Glorie-reeks. As jy Loftus ken, sal jy dalk iets herken... of dalk ook nie, want ek gebruik my kreatiewe vryheid (soms baie daarvan).

 

Maar een ding is seker: hierdie is stories oor rugbyspelers wat meer is as net buffels op en van die veld af. Hulle leef, verloor, baklei, en ja... hulle is meestal baie aantreklik ook.

 

Maar dis mos hoe dit met rugbyspelers gaan deesdae – hulle reis baie, maar iewers skep hulle ‘n huis – en hoekom nou nie in Pretoria nie? Dis my geboortestad. My huis. Ek ken dit darem.

 

 

Blouberg-reeks – Wyn, liefde en familie

ree

Stellenbosch. Wynlande. Romantiek. Dis die wêreld van Blouberg en Tweekop  –  die twee wynplase wat sentraal staan in hierdie reeks. Die foto wat my geïnspireer het tot Blouberg het alles begin: die berge, die wingerde en daardie gevoel van iets wat ouer is as tyd.

 

Ek bring soms Kaapstad en ander dorpe in, maar Stellenbosch is waar die stories wortel skiet. Dit gaan oor broers, susters, liefde, verlies… en wyn. Altans, ek sê dis oor wyn. Dis eintlik oor die mense. Maar hoekom Stellenbosch en nie Franschoek of een van die ander dorpe in die Wynlande nie? Ek weet nie. Vra daardie foto!

 


Groenbosbaai-reeks – My verbeeldings-dorpie by die see

ree

Ai, Groenbosbaai. Hierdie dorpie het begin as ’n herskryfprojek van sommige van my Engelse boeke, maar toe… toe het dit sy eie lewe begin lei.

 

Die eerste er stories – Kinkels en Koffie, Soeter as Wyn en Kolwyntjies vir die Liefde – het almal hul oorsprong in die Taste for Love-reeks gehad, maar toe het ek besef, in Afrikaans wil ek dit nie net deel van’n groot stad maak nie. Nee, hierdie karakters gaan na ‘n klein dorpie trek – bietjie van ‘n kultuuurskok vir sommige, maar Groenbosbaai groei op ‘n mens. Hulle besef dit vinnig. En wat ’n dorpie het dit nie nou geword nie! En dis dieselfde klein dorpie wat Stuart gered het in Somerson Kersfees!



ree

Nou ja, nou brei die dorp uit met nuwe karakters (wat nooit in die Engelse reeks (Taste for Love) verskyn het nie. En die dorp kry nog baie karakters en plekke by. Om die waarheid te sê, ek skryf tans aan die vyfde een wat Kersfees gaan verskyn, maar toe ek Klanke en Kaneel beplan en beplot het, toe steek ander karakters hul hande op en vra: Wat van my? En toe kry ek sommer idees vir hulle stories en nou trek ons al tot by 13. En hoe verder ek skryf, dan dink ek, "Oe, wat van hy en sy? En wat gaan hulle stories wees?" Ek sweer, as ek klaar hierdie boek geskryf het, gaan ons by 15 boeke trek. Of meer.


In Klanke en Kaneel kuier ons by Leonard’s, ’n geliefde kroegie/restaurant in die dorp. Ek sal later meer daaroor verklap...

 

Groenbosbaai is ’n mengsel van Graaff- Franschhoek se kreatiwiteit en Stellenbosch se energie en boustyle – met hope plaaslike geur, familie dramas, en natuurlik: romanse.

 

Wat ek nou al weet: Groenbosbaai gaan BAIE uitbrei. Die mense wat daar woon het stories. Baie stories.

 

 


Skotland – My ander tuiste

ree

Ek skryf nie net oor Suid-Afrika nie. Sommige van my stories speel in Skotland af  –  en nie net omdat dit mooi is nie. Ek het daar gewoon. My man is ’n Skot. Ons besoek gereeld. Dis deel van my lewe, en dis hoekom stories soos ’n Bietjie Hoop, En Toe is Daar Jy, A Widow’s Choice en Net Soos ’n Droom (uit die Sprokiesliefde-reeks) daar afspeel.

 

Daar is net iets aan Skotland wat ek nie kan beskryf nie – die landskap, die weer, die ou klipstrate en die gevoel van tuiskoms elke keer as ek daar is. Ek is mal oor Skotland se woude – die geur van nat mos, die sagte lig tussen die bome, die stilte wat jou stories laat hoor.

 

 

En wat is volgende?

Ek het nog soveel stories in my kop. Nuwe dorpies en gemeenskappe wat ek bou. Nuwe idees wat begin wortel skiet en wag om geskryf te word. Soms begin dit met ’n enkele gebou en twee katte, soos in Purr-fekte Liefde. Ander kere is dit groot – soos die Hartklop-reeks in Glasgow, of ’n hele dorpie soos Groenbosbaai.

 

En nou wil ek weet: waarvan hou jy die meeste?

  • Klein dorpies waar almal mekaar ken?

  • 'n Nuwe plek met groot stories?

  • Of nog stories in Skotland met storms, klipstrate en woude?

 

Vertel my. Ek skryf vir jou.








Comments


© 2020 by francinebeaton. All Rights Reserved.

  • Facebook
  • Twitter
  • YouTube
  • Pinterest
  • Instagram
  • Amazon
icons8-goodreads-50.png
icons8-bookbub-30.png
bottom of page