top of page

Jy hoef nie alleen te skryf nie – hoe skryfprojekte en skryfmaats jou kreatiwiteit aanwakker

Skryf is maar ‘n baie eensame aktiwiteit. Dis net jy, jou rekenaar en daardie flikkerende pyltjie wat soms dreig om mens tot raserny te dryf.


Maar weet jy wat het ek geleer? Ek skryf baie beter as ek weet dat ek dit saam met iemand anders doen.

En dis waar projekte soos ROSAWrimos inkom — ROSA se eie weergawe van NaNoWriMo, maar met meer aanlyn interaksie, baie koffie en miskien ‘n paar memes.


Wat is ROSAWrimos?

Dis ’n skryfuitdaging wat deur ROSA aangebied word. In Junie beplan ons. In Julie skryf ons soos besetenes. In September redigeer ons met baie koffie en dalk baie trane. Teen einde Oktober het jy iets wat lyk soos ’n boek. Of ten minste iets wat jou nie meer laat bloos nie. (En as jy nie weet wat ROSA is nie: dit is die Romance Writers Organization of South Africa).


Hoekom werk dit?

1. Jy voel nie alleen nie.

Dis wonderlik om te weet daar is ander mense wat ook sukkel met hoofstuk 3, wat ook vergeet wat hulle karakters se oë kleur is, en wat ook wonder of hulle ooit weer ’n sin gaan skryf wat nie soos ’n Instagram-byskrif klink nie.


2. Jy hou aan skryf – al is jy moeg

Wanneer jy weet iemand gaan vra hoeveel jy geskryf het, dan doen jy dit. Dis nie druk nie – dis kameraadskap. Soos oefen saam met ’n vriend. Jy wil nie die een wees wat opgee nie… so jy skryf. En jy het pret.


3. Jy vier saam.

Jy het 10 000 woorde geskryf? Dis ’n rede vir koek. Jou een karakter het uiteindelik hul gevoelens gedeel? Dis ‘n applous werd. Skryf saam beteken jy het iemand wat verstaan hoe groot daai klein oorwinnings is.


4. Jy bou vriendskappe.

Ek het sommige van my kosbaarste skrywersvriende leer ken deur sulke uitdagings. Mense wat verstaan hoekom ek opgewonde raak oor ’n paragraaf. Dis goud werd.


Maar weet jy wat dit my nog geleer het?

Ek het in die begin van my skrywersreis vier NaNoWriMos voltooi. En ja, dit het my baie gegee – ondersteuning, gemeenskap, energie – maar bo alles het dit my dissipline geleer.


Ek het geleer om te skryf asof daar daardie onsigbare uitgewer oor my skouer loer, wat gereed is om vrae te vra: “Hoeveel woorde het jy vandag geskryf?” Dit het my gewys ek kán 5000 woorde per dag skryf – nie altyd nie, maar as ek regtig wil, dan kan ek.


Daardie gewoonte, daardie werksetiek, het gebly. Ek was lank gelede nog ’n Klaas wat vir ’n Baas gewerk het. Maar toe ek vir myself begin werk het — as ’n voltydse skrywer, as ’n indie-skrywer — het ek besef: jy kan nie wag vir inspirasie nie. Jy moet sit. En skryf. Elke dag. Met of sonder musiek, reën of sneeustorms en kragonderbrekings.


En dis hoekom ek so opgewonde is oor ROSAWrimos. Want dit herinner my:

👉 Ek hoef dit nie alleen te doen nie.

👉 Maar ek moet dit wél doen.


So of jy nou 10 000 woorde of 50 000 skryf, of net begin met een idee en ’n gallon koffie — kom skryf saam met ons. Daar’s plek vir jou. En daar’s mense wat verstaan.


Wil jy graag deel wees van ROSAWrimos?

Dis gratis vir ROSA-lede, maar selfs as jy nog nie ’n lid is nie, kan jy inskryf deur aan te sluit. En eerlikwaar – as jy romanse skryf, hoekom sou jy nie aansluit nie?


👉 Gaan kyk by www.romancewriters.co.za en word deel van iets besonders.



댓글


© 2020 by francinebeaton. All Rights Reserved.

  • Facebook
  • Twitter
  • YouTube
  • Pinterest
  • Instagram
  • Amazon
icons8-goodreads-50.png
icons8-bookbub-30.png
bottom of page