Vyf maniere om skrywersblok te oorkom sonder om jou hare uit te trek (of jou rekenaar by die venster uit te gooi)
- Francine Beaton
- 12 minutes ago
- 2 min read

Skrywersblok. Daardie aaklige gevoel wanneer jy voor jou rekenaarskerm sit, die pyltjie op ’n leë dokument flits soos ’n laseroog... en jou brein besluit dis nou ’n goeie tyd om op verlof te gaan. Ons almal was al daar. Maar voor jy begin twyfel aan jou bestaan (of jou roeping), hier is vyf dinge wat regtig help – sonder dat jy kalmeermiddels of ’n haarkapper nodig het.
1. Verander jou omgewing
Soms is dit al wat jy nodig het. Jy hoef nie jou hele lewe om te keer nie – maar verander jou omgewing. Gaan sit in ’n ander kamer. In die tuin. In ’n koffiewinkel. Onder ’n boom. Jou kreatiwiteit het soms net ’n vars uitsig nodig. Selfs net ’n ander stoel of tafel kan iets wakker maak.
2. Werk met ’n tydklokkie
Ek stel my foon op 25 minute. Ek maak my deur toe, kies ’n toneel, en skryf. Net dit. Ek redigeer nie. Ek soek nie woorde op nie. As ek iets nie kan onthou nie – veral in Afrikaans – skryf ek die Engelse woord net daar in. Ek kan dit later regmaak. Nou skryf ek net. En teen die tyd dat die tydklokkie lui? Is daar iets op papier. Dis beter as niks.
3. Skryf iets anders. En ek bedoel énigiets.
’n Inkopielys. ’n Kort gedig. ’n Dagboekinskrywing oor hoe jy die kussing wou gooi toe jou karakter nie wou saamwerk nie. Soms moet jy net iets anders uit jou kop kry voor die regte goed weer wil inkom.
4. Daag jouself uit
O ja, dié een ken ek. Ek wou byvoorbeeld nooit in eerste persoon skryf nie. Toe daag ’n paar van my skrywersvriende my uit om ’n toneel – nogal ’n baie sensuele toneel – in eerste persoon te skryf. Ek het my oë gerol. Maar toe doen ek dit. En weet jy wat? Dit het my laat dink. En dit was eintlik lekker om iets anders te probeer. Partymaal moet jy net buite jou gemaksone klim om jou kreatiwiteit weer aan die gang te kry.
5. Gebruik jou lyf
Nee, nie op daardie manier nie. Ek bedoel – gaan loop. Stap om die blok. Sit in die tuin. Klim trappe. Jou brein is nie ’n eensame eiland nie. Partymaal het jou lyf ook beweging nodig voordat jou kreatiwiteit wakker word. En ja, jy mag in jou sitkamer dans. Maak net die gordyne toe.
En as niks werk nie? Dan skryf jy dit ook neer. “Ek weet nie wat om te skryf nie.” oor en oor. Of jy eet sjokolade. Want soms is dit al manier om die eerste sin op papier te kry. En een sin? Dis ’n begin.
Comments