top of page

Skryf en Tydsbestuur: Hoe Ek Dit Balanseer


Skryf is nie net oor die woorde op die bladsy nie. Dit gaan oor die beplanning en organisering wat nodig is om daardie woorde uit jou kop en op papier te kry. Ek het onlangs besef hoe belangrik tydsbestuur regtig is, veral nadat ek teruggekeer het van vakansie. Ek het daardie te-doen-lysie een kyk gegee en ek was van voor af oorweldig, asof die vakansie net ‘n illusie was. Die lysie was laaank. En dis toe dat ek beef het: soms moet jy ‘n stappie terugneem om weer helder te kan dink.


So, ek dink julle het reeds agtergekom dat ek aanpassings gemaak het – dis nou as julle my blog en my sosiale media volg. Hierdie maand is die eerste keer wat ek net twee keer ‘n inskrywing plaas en die afgelope paar weke het ek my sosiale media ook verminder.


En jy hoef nie sleg te voel nie. Daar is niks verkeerd daarmee om soms ‘n stap terug te neem nie.


Beplanning is die sleutel

Die eerste stap in effektiewe tydsbestuur is om te besef dat beplanning nie net ‘n opsie is nie, maar noodsaaklik. Dit help nie net om dissipline te bou nie, maar dit gee jou ‘n plan van aksie. Ek begin elke maand met ‘n tydsbeplanning—ek merk my belangrike punte soos spertye, boekvrystellings, en sosiale media en blog inskrywings. Deur alles neer te skryf, weet ek presies wanneer ek tyd kan afstaan vir skryf en wanneer ek ander take moet aanpak.


Prioritiseer jou take

Een ding wat ek die meeste met my tyd doen, is om take te prioritiseer. Nie alles kan op een slag gedoen word nie. Ek deel my dag in afsonderlike tye vir skryf, redigeer, en administrasie. Ek gebruik dikwels skryfsessies wat ek in 25 minute blokke opdeel—danksy die Pomodoro tegniek. Ek het agtergekom dat dit ‘n wonderlike manier is om my fokus te handhaaf. As iets nie daardie dag klaargemaak kan word nie, word dit na die volgende dag geskuif, maar ek weet presies waar ek moet wees en wat ek nog moet doen.


Gebruik van hulpmiddels

Ek gebruik Google Sheets om al my take op te volg, en ek stel alarms op my foon ommy te herinner wanneer ek sekere take moet verrig, sodat ek by die rooster houVir skryfdoelwitte gebruik ek skryfsessies om myself aan die werk te kry. Ek het agtergekom dat dit nie help om net op my skryfwerk te fokus nie. Ek moet ook plek maak vir die sleurtake op my lysie — anders raak ek só vasgevang in die werk dat ek heeltemal vergeet van die res.


Selfversorging is net so belangrik

Alhoewel ek baie graag wil skryf, is dit net so belangrik om tyd vir selfversorging in te bou. Skryf kan jou moeg en jou breinkapasiteit uitput, en daarom is dit nodig om ruimte vir rustyd te neem. Ek stel een dag in die week opsy om net vir myself te wees—of ek nou net lees, ‘n ent gaan stap, of Koreaanse sepies kyk—dit is my tyd. En wanneer my man by die huis is, het ons een dag in die week ‘n afspraak. Ons gaan inkopies doen, ietsie eet en as ons energiek is, beplan ons iets spesiaal te doen. Nie dat dit baie gebeur nie.  


Afsluiting: Die belangrikste is die balans

Skryf kan maklik oorweldig as jy sonder ’n plan werk. Maar as jy slim beplan en jou take reg aanpak, kry jy nie net jou skryfwerk gedoen nie — jy kry ook jou lewe op ’n manier aan die gang wat vir jóú werk. Beplan, prioritiseer, en moenie vergeet om ook asem te haal nie. Jy hoef nie alles reg te kry nie, en dis reg so!


Dink daaroor. Wat het jy hierdie jaar anders probeer doen? Werk dit? Wat kan jy verander?


Wat is jou beste wenke om jou tyd te bestuur? Deel dit hieronder!

 

Comentarios


© 2020 by francinebeaton. All Rights Reserved.

  • Facebook
  • Twitter
  • YouTube
  • Pinterest
  • Instagram
  • Amazon
icons8-goodreads-50.png
icons8-bookbub-30.png
bottom of page