top of page

Ek het 6 notaboeke, 4 Toeps en 1 brein wat nie wil fokus nie

Ek probeer regtig. Ek wil georganiseerd wees.


Ek het Notion. Ek het Plottr. Ek het Planoly. Ek het Canva. Ek het template en spreiblaaie en kleurkodes. En dan het ek… notaboeke. Letterlik ’n pak. En nie sommer enige nie – hulle is gemerk. Met opskrifte soos "Idees vir Reeks X", “Groepvergadering 2023”, “Prysvrae”, en "Oooo, dit is dalk 'n lekker titel".


As ek fluks voel, probeer ek om alles oor te dra na ’n netjiese digitale plek. Soms werk dit. Soms verloor ek myself weer in ’n Pinterest-bord vol karakter-estetika. Prioriteite, nè?


My foon? ’n Doolhof van skermgrepe van idees wat om 02:14 in die oggend opgeduik het. “Skrywerswegbreek met hoenderboerdery as agtergrond?” (Wat? Hoekom?) Of: “Hy het ’n ou wond in sy siel, nie net op sy skouer nie.” Ja nee, dit is diep. Dankie, 02:14-ek.


En dan is daar Goodnotes. Ek het Goodnotes. Ek gebruik nie Goodnotes nie. Ek het al die mooi template gekoop. Ek het template vir daaglikse beplanning, weeklikse beplanning, boeke beplan, karakters beplan, resepte, horlosie-invulvorms (ek weet nie eens hoekom nie), stemnotas, en hoe om jou gemoedstoestand dop te hou...


Maar ek gebruik een Google-lêer. Een. Wat ek self gemaak het.


Ek het ’n paar Etsy-ontwerpers baie ryk gemaak. Ek het al hierdie mooi template vir Excel en Google Sheets afgelaai – alles kleurvol en slim met allerhande formules wat my brein nie kan uitwerk nie. Wat gebruik ek? Net die een met netjiese blokkies, geen kleur, en ’n selfgemaakte “wanneer jy klaar is, sit ’n X”-kolom. En eerder as om alles in een lêer met oortjies te hou, het ek verskillende spreiblaaie vir verskillende projekte. Want dit is hoe my brein werk.


Jy het idees. Jy het gereedskap. En dan gebruik jy ’n potlood en ’n Checkers-notaboek.


Dan is daar daardie Word-dokumente... waar ek net vinnig ’n idee wou neerskryf. Maar ek het nie dadelik ’n titel gehad nie, so ek het dit gestoor as iets soos: “Sy het gesê ek is laf, maar dit is liefde.” En nou sit ek met vyf dokumente wat almal begin met “Sy het…” En laat ek eerder nie daardie noem met die baie vreemde naam soos “Holy Shit!” nie. Dis ‘n storie vir ‘n ander dag.


En elke keer wanneer ek dink ek is klaar met idees vir boeke, kry ek nog een. En daardie een boek? Word toe ’n reeks. Want dit is soos katte – idees kry babas. Jy weet nooit hoeveel jy gaan kry nie. Net wanneer jy dink jy het net ’n enkele novelle beet, besef jy: “Maar wat van haar suster? En die buurman? En die wynmaker wat net sy naam sê wanneer hy dronk is?”


En so groei die lys. Van “boeke wat ek wil skryf” tot “boeke wat ek hopelik voor pensioen klaar kry”. En party dae kyk ek na daardie lys en dink: Goeie genugtig, vrou! Jy is dan besig met vyf van hulle op ’n slag!


Ek hou aan probéér organiseer. Regtig. Maar my kreatiwiteit is soos ’n winkelwaentjie met ’n skewe wiel: ek kom waar ek moet wees, maar ek ry eers deur drie gange wat ek nooit beplan het nie.


En tog?


Ek skryf. Ek skep. Ek bou wêrelde uit hierdie warboel. En eendag, as iemand vra: “Hoe doen jy dit?” gaan ek sê: ’n toepassing hier, ’n notaboek daar… en ’n baie sterk koffie


Comments


© 2020 by francinebeaton. All Rights Reserved.

  • Facebook
  • Twitter
  • YouTube
  • Pinterest
  • Instagram
  • Amazon
icons8-goodreads-50.png
icons8-bookbub-30.png
bottom of page