Waar my Liefde vir Rugby Begin het
- Francine Beaton
- Jun 26
- 5 min read

Rugby was deel van my lewe vandat ek onthou. Ek het drie boeties gehad wat almal rugby gespeel het. Dan was daar ook die neefs wat saam met ons gebly het, en elkeen van hulle het sy deel op die rugbyveld gebring. Maar dit was my pa se passie vir rugby wat my dalk die meeste bygebly het.
Ek onthou die vroegoggend of laataande wanneer my pa vasgenael by die radio gesit het, terwyl hy na Gerhard Viviers se rugby kommentaar geluister het. Jip, ek gee my ouderdom hier duidelik weg want hierdie ware lank-lank voor televisie in Suid-Afrika.
Wie van julle onthou nog daardie een kommentaar van Spiekeries oor Syd Nomis se drie? Dit was tydens die eerste toets tussen die Springbokke en die All Blacks op 25 Julie 1970 op Loftus Versfeld. Die All Blacks het ’n strafskop in hul eie gebied gekry en op die ou einde het die All Black-kaptein, Brian Lochore die bal gekry. Toe onderskep die Springbokke se regtervleuel Syd Nomis, wat sedert 1965 al deel van die span was, die bal en nael doellyn toe. Gerhard was op sy stukke, en die mees onthoubare stukkie sportkommentaar in ons land se geskiedenis het gevolg. “Siddie, Siddie, en hy druk hom!”

Ek dink daardie rugby kommentaar van oom Gerhard het gehelp om die wedstryd, selfs oor die radio, lewendig te hou.
Saterdae was rugbydag in ons huis, waar ons langs die rugbyveld gesit het. Van my jongste boete se wedstryd vir die laerskoolspannetjie, my middel broer se wedstryde vir die eerste span in die hoërskool tot my oudste broer se wedstryde vir die plaaslike klub – ons was daar. En ,as daar nog tyd was, het ons reguit Loftus toe gegaan vir Noord-Transvaal se wedstryde op daardie staalpawiljoen.
Rugbywedstryde daardie jare bly my by omdat dit nie net oor die spel gegaan nie — dit was oor die mense wat jy mettertyd leer ken het. Ek onthou "Skoonma-se-hoed - ‘n man wat altyd 'n hoed gedra het wat al te veel gelyk het dat hy sy skoonma se kerkhoed vir die geleentheid geleen het. Of die seuntjie met die lekker bry wat luidkeels en kaalvoet geskree het: "Po-ro-gramme!!!" En die oom wat agter ons gesit het met die koedoebiltjong. Elke wedstryd was hulle daar, getrou op sy plek.
My pa was so fanaties oor rugby, hy het self die Springbok-proewe bygewoon as dit in Pretoria plaasgevind het. Rugby was deel van ons huis, soos braaivleis, sonskyn en Chevrolet, soos die ou advertensie oor die radio gesê het.

Nou nog woon ek wedstryde by of kou my naels af by die huis. Ek was al 'n keer of wat op Murrayfield, maar my gunsteling stadion bly maar nog Loftus - veral as dit vol is en dit rof is.
Later, toe al drie my broers by die rugbyklub gespeel het, het my pa hulle aangery oefening toe. Ek en my sussie moes saamgaan omdat ons nie alleen in die straat mag hardloop nie. Ons het dan eers rondom die velde gedraf, en as ons moeg was, het ons langs die veld gaan sit en gekyk hoe ons broers oefen. Maar ek kon nie so lank stilsit nie. Wanneer ek verveeld geraak het, het ek 'n bal gegryp en begin skoppe oefen — stelskoppe en lynskoppe. Kaalvoet. Sjoe, dit het nie altyd so lekker gewerk nie, veral nie in die winter nie!
Ek dink ek sou dalk rugby gespeel het as ek die kans gekry het, maar destyds kon meisies nie. Ek het wel een wedstryd gespeel. Ek is hard gelak, maar ek het ‘n drie gedruk. Ek dink ek het so vinnig gehardloop om te gaan druk omdat ek te bang was dat hulle my weer sou lak! Ek het toe besluit dat almal dalk mag dink ek is ‘n tomboy, ek dalk nie vir die spel gemaak is nie. Maar dit het my nie laat ophou kyk nie.
Dis een sport wat ek kan voel.

Ek het begin om rugby romanse te skryf omdat dit die sport is wat ek ken. As ek dit makliker vir myself wou maak, sou ek dalk ‘n sport gekies het wat meer gewild is, soos Amerikaanse voetbal of yshokkie, maar ek het nie. Ek het rugby gekies, want dit is wat ek ken en wat ek liefhet. Die passie wat ek vir die sport het, probeer ek in my stories inbring.
Toe ek begin skryf het, wou ek ook passievolle, erotiese sportromanses te skryf — soos wat ander skrywers van sportromanses doen. Maar ek het nie die tipiese verbeeldingskarakters vir my inspirasie gebruik nie. Ek het ure by Trademarx gesit en gekyk hoe die Bulle oefen. Ek belowe, dit was vir inspirasie! Tot daardie dag toe een van daardie jong, fris spelers verby my loop en sê: "Middag, tannie." Toe besluit hierdie tannie om eerder vreemde spelers vir inspirasie te gebruik! Hoe kan ek nou 'n erotiese toneel skryf met die kind se gesiggie voor my?!
En nou word my eerste boek in die Spelbrekers-reeks op 4 Julie gepubliseer. Ek kan nie wag nie! Dis die eerste keer dat ek ‘n vroue-rugbyspeler as hoofkarakter in die storie het, en ek is opgewonde om hierdie nuwe avontuur met julle te deel. Maar moenie bekommerd wees nie, dis nog steeds my styl en skoon, soet, Vanilla spice.
Spelbrekers is nie net sommer enige rugby romanse nie - dit is ‘n viering van die sport wat ek liefhet. Die boeke in hierdie reeks is aan die Vroue Springbokspan opgedra—ter ondersteuning in die Wêreldbeker wat in Augustus plaasvind!

En ja, ek sit nog steeds Saterdae en kyk na my gunsteling span. Ek kou nog steeds my naels af, maar gelukkig kan ek self besluit hoe my span in my stories gaan speel! Ek hoef nie my naels af te kou of om die hoekie te gaan staan as dit te senutergend raak nie.
Rugby het ‘n spesiale plek in my hart. Dit het nie net my jeug gevorm nie, maar dit het ook my stories geïnspireer. Ek kan nie wag om al die rugby romanse wat ek geskryf het, en nog gaan skryf nie, met julle te deel nie. Vir my is rugby nie net ‘n sport nie - dis ‘n leefwyse, en verskaf al die passie en spanning wat ek in my boeke kan bring.
Het jy enige spesiale herinneringe aan rugby? Deel jou gedagtes en stories hieronder!
Comments