
Ek was van kleins af lief vir lees. Nog voordat ek kon lees, het ek vir almal wat wou luister, "gelees". Miskien het ek toe al begin stories vertel, sonder om te besef dis wat ek doen.
Soos baie weet, was boeke nie altyd volop nie. Maar dit het my nie gekeer nie. Ek het my deur elke boek wat ek in die hande kon kry, gelees – en as daar nie ‘n storie was nie, het ek een gemaak.
Ek het vinnig deur al die beskikbare kinderboeke en tiener reekse gewerk: Saartjie, Trompie, Kinders van Rivierplaas, die Maasdorp-reeks, die Soekie-reeks … noem maar op. En toe, een dag, het ek ‘n nuwe skat ontdek – my ma se boekklub-boeke. Romantiese stories. Soete liefdesverhale. Ai, ek was onmiddellik verlief. En ek was nog nie eens elf nie
.
Vakansietye was die biblioteek ons toevlug. Op ‘n Maandag het ek en my sussie biblioteek toe gestap, elkeen vyf boeke uitgeneem en op pad terug ‘verversings’ gekry – ‘n Coca-Cola, ‘n paar Creamy Toffees en ‘n Chocolate Log. Terug by die huis het ons ons in my kamer tuisgemaak met sy twee enkelbeddens, die stapel boeke op die bedkassie tussen ons, en begin lees. So net voor drie die middag het ons haastig opgespring om huistake af te handel – want môre lees ons weer. Soms moes ons twee keer per week biblioteek toe gaan, want party boeke is sommer oor en oor gelees, veral Ettie Bierman se Jakaranda-reeks en Susanna M. Lingua se boeke. Ai, haar edelmanne het my laat droom.
Maar teen hoërskool het ons ‘n probleem gehad: ons lees vinniger as wat die biblioteek nuwe boeke kon aanskaf. En ek het ‘n ander doelwit gehad – ek wou my Engels verbeter. Julle weet, nét vir ingeval ek eendag saam met Ettie se Jakaranda-lugdiens sou vlieg of dalk ‘n Susanna M. Lingua-edelman oorsee moes ontmoet.
Ek het my Engelse onderwyseres se raad gevra. Hoe kon ek my woordeskat uitbrei? Ek wou mooi opstelle met indrukwekkende woorde skryf. Haar antwoord? Lees.
My eerste gedagte – en vrees – was dat ek deur nog ‘n klomp Shakespeare sou moet worstel, maar sy stel my gerus: “Lees waarvan jy hou.”
En ek het geweet waarvan ek hou.
So het ek my pad na Dame Barbara Cartland en Mills & Boon gevind. Ek het my woordeskat verbreed, al kon ek ongelukkig nie al daardie dramatiese beskrywings en verhewe woorde in my opstelle gebruik nie. “Hy het haar gevange gehou met sy smagtende blik” sou waarskynlik nie punte verdien in ‘n skoolopstel nie … maar dit het wonderlik gewerk vir my leesplesier.
Ek het nooit gedink ek sou selfs stories skryf nie. Dis eers op die rype ouderdom van 55 dat ek ‘n drang gevoel om self stories te vertel. Die tipe stories waarin klein dorpies ‘n hartklop het, rugbyspelers meer as net ‘n duikslag nodig het om die wedstryd én die liefde te wen, en waar ‘n sprokie ‘n motorfiets en rooi seilskoene kan insluit.
Stories laat ons droom. Dit help ons ontsnap. Dit gee ons hoop. En dis hoekom ek skryf.
Wat van jou? Het jy ‘n boek of ‘n storie wat jou vir altyd sal bybly? Deel dit in die kommentaar – ek wil weet watter stories jou hart gesteel het!
ความคิดเห็น