top of page

Die Snaakste of Mees Onverwagte Navorsing wat Ek vir ‘n Boek moes Doen

Writer: Francine BeatonFrancine Beaton

Skrywers Google vreemde dinge. Dinge wat, as iemand anders dit sien, baie ongemaklike vrae kan laat ontstaan. Dinge wat sekerlik ‘n paar alarms in sekuriteitsinstellings aktiveer. Dinge wat my man op ‘n dag baie stil laat raak het.


Daardie Een Keer Toe My Man Dink Ek Beplan ‘n Skotse Egskeiding

Dit was ‘n gewone dag. Ek het aan my storie gewerk, ‘n paar interessante goed ge-Google en toe besluit om ‘n rukkie te gaan lê. My man het my rekenaar nodig gehad om iets vir sy werk te doen. Geen probleem. Ek maak plek vir hom in my kantoor en gaan dut. Goeie verskoning.


Toe ek later opstaan, merk ek op dat hy baie stil is. Stil op ‘n manier wat my laat wonder of hy dalk bekommerd is oor die groot besluit wat ons geneem het – ons was besig om ‘n trek na Skotland te beplan. Ek dog nog, die man sit seker en dink oor logistiek en visums en hoe ons die huis moet oppak.


Soos altyd, toe dit so half ses slaan, skuif ons stoep toe – ons gesels gewoonlik daar oor ons dag met ‘n glasie wyn vir my en ‘n bier vir hom. Dis net hier waar hy uiteindelik vra: “Is daar iets wat jy my wil vertel?”


Ek is heeltemal uit die veld geslaan. “Wat bedoel jy?”


Hy vou sy arms oor sy bors en kyk my skepties aan. “Ek het gesien jy het vanoggend ‘n skakel oop gehad wat sê: ‘How to get a divorce in Scotland without the other party knowing.’”


Ek spoeg amper my wyn oor die stoep. “Wat?! Nee! Dit was vir ‘n karakter!”


Hy sê niks. Lig net ‘n wenkbrou. Ek weet ek is in die moeilikheid – nie omdat ek iets verkeerd gedoen het nie, maar omdat ek hierdie een deeglik moet verduidelik.


“Ek moes net weet hoe maklik dit sou wees vir ‘n karakter om haar man te los sonder dat hy weet. Jy sien, sy het nie geweet waar hy is nie. Hoe lank moes sy wag? Kon sy hom skei? Dit was vir ‘n storie! Regtig!”


Hy neem ‘n sluk van sy bier en sê droog: “Ek hoop so… want ons het nog nie eers getrek nie en jy maak al planne vir ‘n egskeiding.”


Ek besef toe twee dinge:

  1. Ek moet my soekgeskiedenis uitvee voordat iemand anders my rekenaar gebruik.

  2. Skrywers moet darem baie vertroue van hul gades verwag.


Hoe ‘n Eenvoudige Rugby-navraag My Amper Laat Val Het

Dis nie net moord en egskeidings wat my Google-soektogte vreemd laat lyk nie. Soms is dit heeltemal onskuldige dinge.


Ek moes al Google: “Hoe neem ‘n speler ‘n stelskop?”Ek wou hê dit moes reg wees. Die held is besig om ‘n kind te leer hoe om te skop. Ek moes weet die regte hoek, die perfekte voetposisie, hoe ‘n speler se gewig verskuif wanneer hy skop.


Maar toe besef ek – Google sê vir my een ding, maar hoe voel dit regtig?

Ek probeer dit self.

En ek beland op my alie.

Daardie dag het ek ‘n nuwe respek gekry vir elke losskakel wat ooit ‘n bal suiwer deur die pale geskop het. En ek het besluit ek gaan in die toekoms maar net video’s kyk.


Die Sjokolade-Kolwyntjie-Fiasko

Ek moes ook al ‘n kolwyntjie-resep soek omdat my karakter dit bak.

Ek Google. Ek lees ‘n resep stap vir stap. Ek bak.

En toe ek proe?

Wel. Kom ons sê net myne het nie die lekker-ekkerste sjokolade-kolwyntjies geword wat my karakter bak nie. Dit was eerder soos ‘n teleurgestelde bruintjie wat sy lewe heroorweeg.


Ek het toe besluit: my karakter bak nie meer self nie. Sy kry haar kolwyntjies van ‘n betroubare bakkery af.


Die Werklikheid van Skrywers se Navorsing

Dit begin met: “Hoe lank neem dit vir ‘n boogskutter om ‘n pyl te skiet?”Voor jy weet, is jy drie uur later op YouTube en kyk jy hoe iemand in ‘n Middeleeuse ridderpak ‘n teiken tref.


Jy vra jou af: “Hoe lank neem ‘n geskeurde ligament om te genees?”En skielik weet jy presies hoe ‘n chirurg ‘n knie-operasie uitvoer.


Jy tik: “Wat is die beste gif wat vinnig werk?”En skielik bied Google jou artikels oor kriminaliteitsopsporing en forensiese ontledings aan.


Die gevolg? Google weet nie wat om met jou te maak nie. Op een dag is jy ‘n regskenner in Skotland, die volgende ‘n fynproewersjef, en die dag daarna ‘n speurder wat gif identifiseer.


Maar dis deel van die pret van skryf – om ‘n wêreld te bou wat reg voel, al het jy self nog nooit ‘n rugby-stelskop suksesvol reggekry nie.


Het jy al iets vreemds moes Google? Of ‘n snaakse navorsingsfiasko gehad?Kom gesels saam in die kommentaar! 😆📚

תגובות


© 2020 by francinebeaton. All Rights Reserved.

  • Facebook
  • Twitter
  • YouTube
  • Pinterest
  • Instagram
  • Amazon
icons8-goodreads-50.png
icons8-bookbub-30.png
bottom of page