
Ons het almal ‘n prentjie in ons kop van hoe ‘n skrywer se lewe lyk. Jy weet, daardie romantiese idee van ‘n kreatiewe siel wat met ‘n outydse tikmasjien of ‘n skootrekenaar in ‘n oulike koffiewinkel sit, diep in gedagte edompel terwyl die reën saggies teen die vensters waaik. Die latte het pragtige kunswerk, die musiek is sag en inspirasie vloei soos ‘n goed verouderde glas wyn.
Ja. Nee. Glad nie.
Die werklikheid is effens … minder poëties. Hier is ‘n paar gewilde mites oor skrywers – en hoe dit regtig lyk.
Mite 1: Skrywers skryf moeiteloos in koffiewinkels met hope kreatiewe inspirasie
Realiteit: Jy probeer in ‘n koffiewinkel skryf, maar …
Jy kry ‘n tafel reg langs ‘n klomp besigheidsmanne wat hul maatskappy se hele bemarkingstrategie bespreek. Luidkeels.
Die WiFi is stadig, die kelnerin gluur jou aan omdat jy al jou derde koppie bestel het en steeds net twee sinne op jou skerm het.
Die kelnerinne bars in spontane koorsang uit en die nuwe een laat ‘n hele skinkbord koppies val.
Die ou langs jou tik baie hard en jy oorweeg dit om sy sleutelbord van sy skootrekenaar af weg te pluk.
Na 30 minute het jy 20 woorde geskryf, twee koeke geëet en besluit om huis toe te gaan.
Mite 2: Skrywers is kreatiewe siele wat elke oggend opstaan, koffie maak en direk begin skryf
Realiteit:
Jy staan op … en blaai eers deur sosiale media, want “ek moet darem sien wat in die wêreld aangaan.”
Dan maak jy koffie, vergeet daarvan, vind dit ‘n uur later yskoud en maak dit weer warm in die mikrogolf.
Skryf? Ja, wag. Eers moet jy gou net navorsing doen oor iets eenvoudig soos “beste plekke om te oorwinter” en skielik is jy diep in ‘n Wikipedia-rabbit hole oor hoe eskimos igloes bou.
Wanneer jy uiteindelik reg is om te skryf, sit jy voor jou skerm en wonder of jy nie eerder jou linnekas moet uitsorteer nie.
Mite 3: Skrywers het beheer oor hul karakters en weet presies waar ‘n storie gaan
Realiteit:
Jy begin met ‘n goed beplande storie. Jou heldin is ‘n slim en onafhanklike sjef. Jou held is ‘n broeierige argitek. Perfek.
Skielik, halfpad in die boek in, besluit jou heldin sy hou nie eintlik van kook nie, sy wil eerder ‘n wynplaas begin. Jou held … wel, hy besluit hy gaan nou nie argitektuur beoefen nie, hy wil eerder sy oupa se motorwerktuigkundige besigheid oorneem.
Jy skryf en skryf, en skielik vra jy: “Hoe het ons hier uitgekom?”
Jy besef jy het nie beheer nie. Jou karakters besluit vir hulself.
Mite 4: Skrywers skryf deurdagte en poëtiese eerste weergawes
Realiteit:Jou eerste weergawe lyk so:
“[Kort iets beter hier]”
“Hy kyk na haar met … [is ‘n broeiende kyk te veel?]”
“DIALOOG HIER – SIEN NOTAS”
“Hoekom is hierdie toneel so vervelig? Dit was goed in my kop.”
“Herinner jouself om hierdie deel later te herskryf.”
Maak rekenaar toe en gaan soek sjokolade.
Mite 5: Skrywers weet wanneer hulle ‘n boek klaar geskryf het
Realiteit:
Jy skryf die laaste sin en voel vir presies vyf sekondes soos ‘n genie.
Dan begin jy twyfel: “Wat as dit aaklig is?”
Jy herlees ‘n paar dele en kry ‘n sin soos “Hy glimlag vir haar, sy glimlag vir hom, en hulle glimlag vir mekaar” en kry ‘n paniekaanval.
Jy stuur dit vir ‘n proefleser met die instruksie “Asseblief, wees sag met my” en dan ontduik jy alle vorme van menslike kontak vir ‘n week uit vrees vir terugvoer.
Mite 6: Skrywers is gedissiplineerd en werk net aan een storie op ‘n slag
Realiteit:
Jy probeer fokus, maar skielik kry jy ‘n geniale idee vir ‘n ander storie.
Jy maak ‘n vinnige nota … en drie uur later is jy 5000 woorde in en jou oorspronklike boek is steeds nie klaar nie.
Jy begin ‘n derde storie oor ‘n idee wat jy in ‘n droom gehad het.
Skielik het jy drie boeke gelyktydig op jou rekenaar oop.
Mite 7: Skrywers is kalm en professioneel wanneer hulle ‘n boek publiseer
Realiteit:
Jy druk aanhoudend refresh op jou e-pos om te sien of daar enige nuus is.
Jy raak ‘n klein bietjie histeries oor die boek se omslag (is dit mooi? Pas dit die genre?)
Jy tel elke resensie en dink: “Daardie een 3-ster? Hoekom?!”
Jy sweer jy gaan ‘n breuk neem ná hierdie boek.
‘n Dag later begin jy ‘n nuwe boek.
Skrywerslewe is beslis nie altyd hoe mense dit voorstel nie, maar dis nog steeds die moeite werd. Want op die ou end, na al die koue koffie, veranderde tonele en karakters wat jou ignoreer, is daar ‘n storie. En daar is niks meer bevredigend as dit nie.
Het jy ‘n romantiese of snaakse voorstelling gehad van hoe skrywers werk? Of het jy al probeer skryf en besef dis nie so maklik soos dit lyk nie? Kom gesels saam in die kommentaar!
Ek het nou so lekker gelag - beter kon jy dit nie stel nie!