Skryf soos jy praat – en hoekom dit werk
- Francine Beaton
- May 23
- 2 min read

Ek het dit al gesien. Skrywers wat lag en gesels en stories vertel met ‘n vonkel in hul oë — en dan gaan sit hulle voor hul rekenaar en alles verander in ’n vreeslike ernstige weergawe van hul Afrikaanse onderwyser in matriek (‘skuus meneer Poertjie. Nie jy nie). Elke sin klink soos ’n opstelvraag. Elke karakter klink soos ’n radio-nuusleser.
En ek vra myself af: hoekom skryf ons dan nie soos ons praat nie?
Want weet jy wat gebeur as jy dit wél doen?
1. Jou stem begin deurkom.
Lesers wil nie perfektheid hê nie. Hulle wil egtheid hê. Hulle wil voel jy kuier saam met hulle en dat jy nie vir hulle preek nie. Of jy nou eerste persoon, derde persoon of "ek-praat-met-jou " skryf — egtheid wen.
2. Jou dialoog raak natuurliker.
Niemand praat soos die Woordelys en Spelreëls nie. Ons laat sinne halfpad hang. Ons sê “uhm”. Ons meng idiome en soms ook tale. Ons vloek soms. En dis oukei — dis hoe karakters lewe kry.
3. Jy kry selfvertroue.
As jy jouself toelaat om net jy te wees op papier, begin jy glo dat jou stem genoeg is. En dit is. Jy’s nie op 'n redaksie vergadering nie – jy’s besig om ’n storie te vertel. En stories het ‘n hart nodig, nie net grammatika nie.
Maar… beteken dit jy kan skryf soos jy wil?
Wel. Ja én nee. Jy moet nog verstaan wát jy doen. Jy moet weet wanneer jy reëls buig, en waarom. Dis soos om koek te bak – jy kan eksperimenteer, maar jy moet eers weet wat meel is.
So, volgende keer as jy voor daardie skoon nuwe dokument sit met ‘n flikkerende pyltjie wat vir jou loer, moenie vra: “Wat sal slim klink?” nie. Vra eerder: “Hoe sou ek dit vir my vriendin vertel het oor koffie?” Want as jy so skryf? Dan lees ek elke woord.
Comments