Ek wil skryf – nie bemark nie
- Francine Beaton
- Apr 11
- 2 min read
Updated: 3 days ago

Sosiale media? Bleh!
Ja, ek sê dit sommer hardop. Ek wéét dis belangrik. Ek weet dis iets wat jy “moet” doen as jy boeke wil verkoop. Maar eerlikwaar? Ek sal eerder probeer om vir die buurvrou se kat ’n pil te gee as om myself weer deur ’n week se sosiale media-beplanning te sleep.
Ek het uiteindelik die reuse besluit geneem: ek het dit oorgegee aan my VA. En almal wat my ken, weet — dis groot. Ek moet haar natuurlik nog riglyne gee, want “maak dit mooi en laat dit soos ek klink, maar nie ongemaklik of aanstellerig nie” is nie presies ’n strategiese bemarkingsplan nie.
Maar darem, daar’s een aspek waarvan ek hou: hoe my handelsmerk lyk. Ek kan myself verloor in kleure, lettertipes en die perfekte uitleg. Dis amper terapeuties. Gee my grafika om te ontwerp, en ek's in my element. Ek wil hê my sosiale media moet bymekaar wees — dit moet vloei. En dit moet my kleure gebruik. Niks pienk en blou of pers nie, asseblief. Meng dit, en ek voel soos ’n vegter wat ’n hou van Drikus du Plessis gevat het: uit. Klaar.
Dis snaaks, want ek hou van mense. Ek’s daai introvert-ekstrovert wat ure lank by ’n boekemark kan gesels. Ek geniet regte interaksies — grappies, stories, geselsies. Maar sodra ek terug in my kar klim, voel ek soos iemand wat vyf uur in ’n winkel rondgedwaal het sonder koffie. Leeg. Sosiale tenk: nul. Uitgewas.
Maar daardie regte ontmoetings? Hulle Is goud werd. Jy sien mense se reaksies, jy hoor hulle lag, jy deel egte oomblikke. Dis lewendig. Die probleem? Niemand kom by jou boektafel as hulle nie weet jy is daar nie. En waar hoor hulle van jou? Jip. Sosiale media. En so begin die (bose) kringloop.
Wat ek met tyd, trane en ’n paar bietjie-dramatiese WhatsApps geleer het:
Jy hóéf nie elke dag iets te plaas nie. Jy mág rus.
Een promosieplasing per week is genoeg — jy is nie ’n advertensiebord nie.
Foto’s saam met lesers of by ’n funksie werk beter as die mooiste grafika.
Jy mág vra vir hulp. Jy mág delegeer. Jy mág net skryf as dit al is wat jy vandag kan doen.
Ek wil skryf. Dis wie ek is. Ek wil nie ’n voltydse bemarker wees met 101 planne, reëls en plasings nie. Maar ek wíl hê mense moet my stories lees. En al frustreer die pad daarheen my soms, weet ek: ek kan dit op my manier doen.
Sonder om myself te verloor in die deurmekaarspul.
Ek hou van dinge wat inpas. Dis al.
ความคิดเห็น