top of page

PAD NA GLORIE

'n Huis vir Jannes.png

'N HUIS VIR JANNES

Jou huis is waar jou hart is.

Jannes Benadé en Estie Krause het ‘n lang geskiedenis; eerste skooldag, eerste soen op Jannes se sestiende verjaarsdag en ’n nuutgevonde verhouding ... wat gekortwiek word deur die verhuising van die Benade’s na Nieu-Seeland.

Hartgebroke bevind Estie haarself swanger na ‘n kortstondige verhouding met ’n student. Haar en Riekert se ouers dring aan op ‘n huwelik. Die sestienjarige bruid gee in, al weet sy dat hul huwelik nie enige kans het op sukses nie.

Jare daarna keer Estie en haar seun, Anrich, terug na Suid-Afrika en skep ‘n nuwe lewe tussen die Jakarandas van Pretoria.

 

Jannes aanvaar die Wildehonde se aanbod vir ’n rugby-kontrak. Sy verblyfreëlings in Pretoria lê veilig in sy ma se hande. Miskien moes hy van beter geweet het.

 

Toe Estie die deur vir haar ma se onbekende gas oopmaak, spoel soveel emosies deur die twee eertydse vriende, waaronder vreugde, vrees, pyn en opgewondenheid.

Tyd is egter ‘n groot geneser. Die vriendskap hervat maklik, maar Estie bly onseker of sy weer haar hart vir Jannes kan gee.

Jannes is verras toe die All Blacks hom uitnooi na ‘n oefenkamp. Hy is in twee geskeur – moet hy sy hart volg of sy passie najaag?

Jakes se Geheim.png

JAKES SE GEHEIM

Wat weeg die swaarste? Liefde of Lojaliteit?

"Fokus! Hou jou oog op die bal en bly weg van vroumense." As 'n professionele rugbyspeler het Jakes du Plessis se mantra nog altyd goed gewerk. Tydens 'n besoek aan Denver vir terapie, dreig ʼn ontmoeting met Angie Summers om Jakes se planne omver te gooi. Spoke uit sy verlede herinner hom hoekom hy nie uitgeknip is vir 'n verhouding nie en hy vlug terug na Suid-Afrika.

Toe Angie vir Jakes du Plessis ontmoet, was sy verbaas deur die emosies wat die groot Suid-Afrikaner ontlok, veral omdat sy nog 'n ander man se ring dra.

Die noodlot het egter ander planne. Vlug het nie gehelp nie aangesien Angie in Suid-Afrika opdaag, oënskynlik om haar broer te help, maar ook in die hoop om Jakes te oortuig om hulle 'n kans te gee.

Kan Jakes sy verlede begrawe en Angie 'n tweede kans gee? Kan Angie daarin slaag om Jakes te oortuig dat liefde alles kan oorwin?

'n Kans vir Christopher.png

'N KANS VIR CHRISTOPHER

Daar is ‘n fyn skeidslyn tussen liefde en haat ...

Toe Christopher Brooks vir Riley Adams by die eerste mediakonferensie van die jaar raaksien, was dit asof iemand hom met 'n  vuishou slaan. Maak nie saak watter gevoelens sy aanwakker nie. Christopher kan haar nie weer in sy hart toelaat nadat sy dit sewe jaar gelede gebreek het nie. Of kan hy?

 

Riley Adams het nie die luuskheid om Christopher te haat of te ignoreer nie. Hul lewens is onlosmaaklik verbind. Haar beste opsie is om Christopher so gou moontlik te konfronteer voordat hy haar geheim leer ken.

Wanneer Christopher hoor wat sy te sê het, gaan hy haar nog meer haat of sal hy bereid wees om haar te vergewe?

Daniel se Dilemma.png

DANIEL SE DILEMMA

Versoekings kom in baie vorms ...

Solank dit net nie Melissa Roux is nie. Die vurige blondekop met die mooiste paar bene voorspel moeilikheid. Daniel Cooper het dit geweet die oomblik toe sy oog op die nuwe fisioterapteut van die Buffels geval het. As kaptein moet hy ‘n voorbeeld stel en om op Melissa verlief te raak is nou nie juis die manier om dit te doen nie.

Melissa het al die eerste dag geweet dat Daniel ‘n probleem gaan wees. Daar is geen manier wat sy haar loopbaan in die gevaar gaan stel vir ‘n arrogante chauvinis wat haar ‘n dom blondine genoem het nie. Sy het gans en al te hard gewerk om haar droom ‘n realiteit te maak.

Nie een van die twee kan egter die onmiskenbare aantrekkingskrag tussen hulle ontken nie. Daniel rig ‘n eenvoudige versoek maar dit het onverwagte gevolge. In sy soeke na die waarheid, maak hy nog ‘n oordeelsfout wat nie net Melissa se beroep in die gevaar stel nie, maar ook die lojaliteit van die klub en sy span.

Beide Melissa en Daniel moet ‘n keuse maak: Wat is die belangrikste? Hul liefde of hul loopbaan?

'n Man soos Pierre.png

'N MAN SOOS PIERRE

Landie Schoeman keer terug van Amerika met meer as net ‘n enkelbesering.

Dié herstel vinniger as die pyn en vernedering wat haar dansmaat haar besorg het. Sy is beslis nie gereed vir ‘n nuwe verhouding nie, en beslis nie vir ‘n man soos Pierre Basson wat so blatant sy vrou verneuk nie.

Pierre kan nie verstaan hoekom die aanvallige ballerina met die fyn sproetjies oor haar neus, niks van hom hou nie. Hy sal alles in sy vermoë doen om Landie te oortuig om hom ‘n kans te gee – selfs met sy nommer 12 rugbystewels ballet saam met haar doen as dit is wat dit gaan verg.

Wanneer Landie uitvind dat sy haar heeltemal met Pierre misgis het, sal sy haar hart oopmaak vir die groot rugbyspeler met die klein hartjie?

Ultimatum vir Ulrich.png

ULTIMATUM VIR ULRICH

“As jy weet wat goed is vir jou en jou loopbaan, bly weg van my dogter!”

Al wat Ulrich Fölscher wil doen is rugby speel vir die Buffels en die Springbokke en om uiteindelik die beste sjef in die stad te wees. In daardie volgorde. Daar is nie plek vir romanse in sy lewe nie. Om sy afrigter se bevel na te kom is dus maklik, totdat hy die afrigter se dogter ontmoet. Samantha is alles wat hy soek – warm, borrelend – en moontlik daardie geheime bestanddeel wat Ulrich nodig het om sy lewe op te vervolmaak.

Sammy is ‘n professionele atleet en ken dus ook die reëls. Dit is egter baie moeilik om Ulrich se innerlike krag, sy fokus en vasbeslotenheid, maar veral sy verleidelike soene, te weerstaan.

Hulle albei weet hoe om te baklei vir dit wat hulle wil hê. Saam met hul groeiende aantrekkingskrag kom die druk om ‘n keuse te maak. Gaan Ulrich en Sammy aanhou om die reëls te volg of gaan hulle die risiko neem en veg vir hul liefde?

Die Raaisel Rondom Ryan.png

DIE RAAISEL RONDOM RYAN

“Ek is nie aantreklik genoeg nie. Ek is ‘n stut, nie die vangs in die span nie. Almal dink ons is dom. Die losvoorspelers en die ouens in die agterlyn kry altyd die mooi vrouens.”

Ryan Foster weet mos teen die tyd hoe dinge werk. Hy het dus geen verwagtinge toe hy dokter Margaret Blake ontmoet nie.

Margaret het nog nooit ‘n geheim daarvan gemaak oor hoe sy oor rugby voel nie. Volgens haar is rugby ‘n spel wat aangehang word deur dom-onnosele skorriemorries. Sy is dus verbaas toe sy Ryan ontmoet dat sy ‘n amper chemiese aantrekkingskrag voel vir die groot stut met sy bosbaard en lang hare. Een aand in sy geselskap oortuig Margaret egter dat daar meer aan Ryan is as die beeld wat hy voorhou en sy val vir sy sjarme.

‘n Ernstige harsingskudding plaas Ryan se rugbyloopbaan, en daarmee ook sy verhouding met Margaret, in die weegskaal.

Kan Margaret Ryan – en haarself – oortuig dat hulle dalk ‘n toekoms saam het? En al kan hulle, sal hulle hul verlede kan agterlaat om saam ‘n gelukkige einde te vind?

Richie en die Rooikop.png

RICHIE EN DIE ROOIKOP

‘n Vurige Rooikop. ‘n Hardkoppige Skot. En een toevallige ontmoeting.

Toe Richie Campbell in Pretoria arriveer, het die Skotse vleuel ‘n reputasie wat behoorlik ‘n myl lank is. Na nog ‘n onderonsie met die Britse pers is hy sy plek in die nasionale span kwyt en het die Vlieënde Skot nie veel van ‘n keuse as om ander weivelde te soek nie. Richie hoop dat hy vrede en die kans om weer sy rugby te geniet aan die ander kant van die wêreld gaan vind. Wat hy nie verwag het nie is om die suster van sy Skotse spanmaat te ontmoet en boonop baie hard vir haar te val nie. Nie dat dit juis veel saak maak nie. Dit blyk dat Sarah Mackay immuun is teen sy sjarme.

Sarah het twee reëls. Een: Moet nooit ‘n verhouding met ‘n kliënt aanknoop nie. Twee: Bly weg van ‘n sportman. Daardie ouens het gans en al te veel testosteroon. Sy behoort mos teen die tyd al te weet want sy het al twee keer aan die kortste ent getrek.

Sarah voeg nog een bynaam op Richie se alreeds lang lysie byname:  Stoomroller. As hy jou pad kruis, lê daar net moeilikheid vir jou voor.

Maar vir hoe lank kan Sarah Richie se sjarme weerstaan, veral wanneer sy uitvind watter geheim hy so diep wegsteek?

En dalk was Richie se ouma reg en gebeur dinge om ‘n rede?

Gelukkige Luke.png
'n Meisie vir Mark.png
bottom of page