top of page

Van pen tot papier: 'n Onderhoud met Elsabé Welman


Vandag kuier ek heerlik met my mede-skrywer, vriendin, beta-leser, en 'n groot deel van my ondersteuningstelsel, Elsabé Welman. Ek en Elsabé het darem al hierdie jaar twee keer geleentheid gehad om in persoon te kuier. En ons gesels elke keer 'n hond uit 'n bos uit. Vandag is dit nie juis veel anders nie. Ek het vir Elsabé 'n paar vrae (oukei, 'n hele klomp) gevra. Daar is egter nog soveel meer wat ek wil weet.


Waar het jou liefde vir skryf begin? Moontlik op skool, alhoewel ek dit nie besef het nie. Opstelle was ’n lekkerte om te skryf. Eers is 2014, toe ons deur ’n moeilike seisoen moes stap, wou ek tydelik ontsnap van die werklikheid. Ek het begin skryf aan ’n (onrealistiese 🤦‍♀️) verhaal. Die manuskrip is nooit gepubliseer nie, maar ek kon daarna nie ophou skryf nie. Na my 7e manuskrip, het my man en ’n vriendin my oorreed om ’n manuskrip in te stuur. Ek het behoorlik gesweef toe dit aanvaar is.


Watter advies sal jy ‘n nuwe skrywer gee wat nou net begin? Glo in jouself, maar jy moet bereid wees om te leer (webinars by te woon of te lees en te lees), om voorafbeplanning en behoorlike karakterbou vir elke boek in te bou, om ure te sit met selfredigering, om bemarking te doen (al publiseer jy deur ’n tradisionele uitgewer), om kritiek te kan vat en daaruit te leer, om... aan te hou. Moenie moed opgee nie.


Wat, volgens jou, is die belangrikste element van goeie skryfwerk?

Karaktervorming: Jou leser wil konnekteer met die karakters. Hulle moet geloofwaardig wees (swak en goeie karaktertrekke). Al is jou storielyn minder goed, kan jou karakters jou boek suksesvol maak.

Storielyn: Die storie moet beweeg. Haal alle byvoeglike naamwoorde, herhaling van inligting of onnodige inligting uit, dit verslap die pas.

Ordentlike behoorlike professionele redigering en teksversorging.



Hoe lyk jou skryfspasie?

Deurmekaar 😁😣.


Sien jy die sjampanje/wynbottels links bo. Dis my liefie wat ons elke boek/prestasie laat vier.


Die lessenaar het ek by my ouers geërf. As dogtertjie het al die laaitjies en afskortings my so gefassineer.





Wat s die moeilikste deel van skryf vir jou? Daardie selfredigering! Oor en oor en oor. Ek moet ook bemarking byvoeg. In wese is ek nie ’n bemarker nie, wat nog te sê van my eie werk. Ek sou die tyd spandeer op bemarking, eerder wou skryf. Maar boeke verkoop nie hulleself nie.


Hoe hanteer jy kritiek? Kritiek ’n seer punt, maar dit kan waardevol wees. Hang af wat jy daarmee maak. Ek onthou elke stukkie kritiek terwyl ek skryf, want ek wil daarop verbeter. Mens moet ’n dik vel ontwikkel en kyk wat die kritiek behels. As 99% lesers ’n vier of vyf ster gradering vir jou boek gee, kan jy nie in depressie val oor een een-ster gradering nie. Natuurlik gaan nie almal van jou genre of skryfstyl hou nie. Natuurlik wen nie almal pryse of jou kortverhaal word altyd by ’n tydskrif aanvaar nie. Afkeuring van jou werk is deel van die pakket. Dit beteken nie jy is nie ’n skrywer nie. Daardie afgekeurde kortverhale word jou eie kortverhaalbundel. Daardie “nie-publiseer”-briefie van ’n tradisionele uitgewer het ’n #1 geword op Amazon se Beste Afrikaanse verkope. Draai kritiek om in ’n leergeleentheid en ’n “ek kan” houding.



Hoeveel boeke het jy al geskryf en watter is jou gunsteling? Sewe boeke gepubliseer en Ontfrommel is waarskynlik my gunsteling. My eerste speurromanse.



Hoekom het jy besluit om in jou genre te skryf en wat het jou aangetrek tot die genre?

My gunsteling genre is spanningsromanse of speurromanse (dit is wat ek graag lees). Wanneer ek dus skryf, moet daar drama en spanning wees. 😍 My lesers se maagspiere moet saamtrek en ontspan, saamtrek en ontspan. Goeie oefening. 😁


Ek sukkel egter om ’n storie terug te hou as hy effens buite my gewone genre val. Ek het al toekennings gekry vir kortverhale in Jeugfantasie. Ek het ’n jong-volwassene roman gepubliseer. As die storie daar is, moet hy uit.



Wat is die titel en publikasiedatum van jou jongste boek?

Klippe kan kraak is op 28 Augustus vrygestel.



Dit is dan ook boek 2 van die Berg Broers-trilogie








Het jy enige navorsing vir Klippe kan Kraak gedoen? Wat het dit behels?

My antagonis het sy parool-voorwaardes geminag. Gelukkig het ek ’n goeie vriend wat ’n parool-offisier was. Ons het baie tyd spandeer met al my vrae, ook oor waar hy aangehou word tot verhoordatum, ensomeer.



Gee ‘n aanhaling uit die boek:

Jou ergste nagmerrie word ’n realiteit. Iets gaan gebeur. Hy weet nog nie wat nie.”



Werk jy aan iets anders op die oomblik?

  • Ek wil Filtervlinder se tweede uitgawe voor die einde van die jaar afhandel. Filtervlinder is boek 3 van die Berg Broers-trilogie. Filtervlinder is al gepubliseer, maar ek het nodig om hom te skaaf en ’n nuwe baadjie te gee.

  • Terselfdertyd is Klonte Sout in Engels vertaal: Forsaking Others. Ek wou hom in Tampa, VSA laat afspeel, maar die regsprosedure van elke staat in die VSA is anders, baie stadiger en moeilik! Veral vir my met geen regs-agtergrond nie. Dalk bly my karakters nog in Suid-Afrika.


Is daar enigiets waarop jy hierdie jaar wil fokus?

Hoeveel maande is daar nog oor in hierdie jaar? 😫

Ek wil graag weer ’n Kersfees-novelle vrystel voor Kersfees. En dan moet ek begin met ’n speurreeks. Die eerste boek sit hier in my kop – hy wil uit! En ek kan nie wag om te begin skryf nie.



Wie is jou gunsteling skrywer en hoekom? Madeleine Rust. Elke boek van haar is ’n verrassing. Jy hoor nie haar stem nie, jy maak kennis met unieke karakters. Sy het nie onnodige detail in haar boeke wat die pas verslap nie. Die storie loop!



Jou gunsteling boek as kind? Die Saartjie-reeks! Ek het dit verslind. As tiener sal ek nooit Maretha Maartens se Pot vol Winter vergeet nie.



Hoekom het jy besluit om self te publiseer?

Dit is ’n gelaaide vraag. Hier is een van meer voorbeelde wat ek persoonlik ervaar het met ’n tradisionele uitgewer. Agt maande se wag voor die uitgewer laat weet hulle aanvaar die manuskrip. Na 14 maande vra hulle dat ek al die karakters moet vervang en die storielyn moet verander. Huh? Ja, dit was my antwoord. ’n Hele jaar en ek moet voor begin! Ek het die einste boek self gepubliseer binne drie maande, met al die korrekte stappe onder andere professionele redigering. En hy het goed verkoop! Verkoop nog steeds goed op Amazon. Ek noem dit nie as suur druiwe nie. Eintlik moet ek dankie sê vir hierdie en ander antwoorde soos “Ons publiseer tans net bekende skrywers se werk.” Dit het my in die selfpubliseringswêreld ingedruk, want ek en ander het geglo in skryfwerk. Ek het by mede-Indie-skrywers geleer en ken elke stap in publisering. Op die stadium betaal ek slegs vir enkele dienste, onder andere die omslag, ’n professionele redigeerder en ’n drukker. Met elke boek toets ek die mark vir beter kwotasies, maar ek weet al wie doen kwaliteit werk. Ek het beta-lesers wat help. Ek formateer die geredigeerde werk self na e-boek en gedrukte formaat. Ek publiseer self op Amazon en elders. Ek bemark self. Ek beheer die hele proses. En die beste van alles, ek hoef nie maande of ’n jaar of twee te wag voordat die boek verskyn nie.



Jou skooljare? Ek was seker ’n ekstrovert, maar nooit die middel van die geselskap nie. Baie voorbeeldig en gesteld op dissipline en regverdigheid. Wiskunde en Rekeningkunde was my gunsteling vakke. Engels was ’n nagmerrie, daardie tenses!



Was jy ooit deel van ‘n sportspan? O ja. Dit was die beste deel van skool. Tennis, atletiek en korfbal op skool gespeel, en squash vir my universiteitskoshuis. Niks om oor huis toe te skryf nie. Maar my gees sit in die Springbokspan. So ja, ek is deel van ’n sportspan!! Dink nogal ek sou ’n goeie skrumskakel of heelagter kon wees, maar Rassie het my nog nie ontdek nie. 🤩🏈


Wat is jou gunsteling bestemming en hoekom?

Die see! Hierdie was ’n vakansiefoto, maar mens... daardie uitsig en skryf is ’n wenner. Eendag as ek groot is...



Wat is jou gunsteling aanhaling? “First plan your work then work your plan.” Ek’s nogal ’n organisasie-freak. Dit kom natuurlik en maklik, behalwe in my boekbemarking. Om een of ander rede het ek dit nog nie bemeester nie!


Wat is jou gunsteling kos? Melkkos! Sushi. Pannekoek.





Vinnige drie:

Seisoen: Somer.

Blom: Pronkertjies of magrietjies

Liedjie: Huppel in my stap van Christiaan Baartman (https://bit.ly/3KUmYWF)

en I love you Baby of Can’t take my eyes off you (die romantikus in my!) https://www.youtube.com/watch?v=AiIBKcd4m5Q.


Ek deel my gunsteling resep met julle.


Ek is nie ’n kombuismens nie, daarom is hierdie 3- bestanddele resep my gunsteling! Vinnig en maklik. Het dit een dag op Facebook gesien.

Pakkie Tennisbeskuitjies (maak fyn en strooi onder in gesmeerde glas tertbak. Moenie met margarien/botter meng nie.)

Meng: 1 blik kondensmelk en 1 kg yoghurt (’n vrugteyoghurt is lekker). Gooi oor fyn tennisbeskuitjies.

Mikrogolf 5 minute.

Sodra die mengsel kook, bind dit die krummels tot ’n kors.

Laat afkoel op rak, en dan in yskas

Die yoghurt verander in ’n sagte roomkaas wanneer die afkoel. Dit proe soos kaaskoek. Njammies.




Skakels na:


Kort bio

Alhoewel Elsabé oor die jare tussen die platteland en die stad gewoon het, kon sy nou nes skrop in die rustigheid van die Karoo. Sy het haar deur die jare in verskillende situasies en werke bevind, en presies dit is wat haar bloed sterk laat vloei; elke nuwe geleentheid is opwindend. "She turned her can’ts into can's and her dreams into plans.” Skryf is soos daaglikse asemhaling. Sy sukkel nie om stories op te grawe nie, haal dit selfs uit haar nagmerries!

Elsabé is met Anthonie getroud. Sy was onder andere ʼn onderwyser, later dosent aan die destydse Technikon, stigter van Availabed Akkommodasie besprekings en het in verskeie administratiewe poste gedien.

Elsabé se skryfloopbaan het afgeskop in 2014 as 'n deeltydse passie, maar het sedert 2021 'n voltydse genot geword. Sedertdien het sy 7 boeke gepubliseer. Een hiervan was aangewys as naaswenner van ‘n romankompetisie, ’n ander het weggestap met ‘n wonderlike resensie van die bekende jeugskrywer, Maretha Maartens. Twee kortverhale is bekroon as wenner van die Afrikaanse Jeugfantasie en drie kortverhale is opgeneem in kortverhaalbundels.

Welman se fiktiewe karakters word deur haar lesers as realisties bestempel; vanaf haar eerste boek word sy gekomplimenteer deur lesers wat hulself kan identifiseer met ‘n karakter. Meeste van haar karakters stap ‘n groeipad, ongelukkig is daar soms ‘n held wat afsterf of ‘n skurk wat halstarrig verhard.

Elsabé se werk is bekend vir 'n kombinasie van romanse en spanning/speurverhale in 'n boeiende skryfstyl. Behalwe skryf, hou sy daarvan om te skilder en natuurlik om te lees.




bottom of page