top of page

Ontdek die wêreld van liefde



In ‘n wêreld waar liefde en romanse partymaal soos ‘n veraf droom voel, het die letterkunde die ongelooflike manier om hierdie mooi emosies lewe te gee. Dit is vir my die mag wat ek as ‘n skrywer van liefdesverhale het – ek kan harte steel, lesers wegvoer na ‘n wêreld waar die liefde alles oorwin. Met elke letter wat ek op my gehawende sleutelbord tik, en met elke sin wat ek voltooi, hoop ek om ‘n emosionele verhaal te skep wat lesers sal aanraak.


Welkom by my blog, waar ek nie net my persoonlike reis met julle gaan deel nie, maar ek gaan ook my gedagtes deel oor die kuns om hierdie genre te vervolmaak, en julle ‘n glimps gee van die wêrelde wat ek skep.


Waar het dit begin?

Ek is al as jong kind bekoor deur liefdesverhale. Ek het my ma se boekklub boeke verslind toe ek nog skaars tien was. Al daardie wonderlike gebare, soet oomblikke en die ongelooflike aantrekkingskrag tussen twee individuele het my gefassineer. Soos ek ouer word, het ek net meer bekoor geraak deur liefdesverhale. My gunsteling skrywers kon my op ver reise neem, soos Susanna M Lingua en Ettie Bierman my kon neem na Portugal en Italië en ander veraf lande waarvan ek net kon droom. Tog, die begeerte om hierdie wonderlike oomblikke deur my eie skryfwerk te deel, het eers baie jare later gekom.


In Julie 2016 is ek en my man en dogter na Amerika vir ‘n vakansie. New York en Disney in Florida was op ons lysie. Op die 4de Julie het ons op ‘n bootrit op die Hudson gegaan om die vuurwerke oor die stad te aanskou. Dis toe dat ons ‘n jong rugbyspeler van Jersey ontmoet het wat, toe hy hoor ons is van Suid-Afrika, net rugby wou praat. Ek het toe besef hoe die sport bande kan bou regoor die wêreld. ‘n Week later het ons die lang vlug van New York na Johannesburg aangedurf. Soos gewoonlik kon ek nie slaap nie. Ek het toe my tablet uitgehaal om te lees, maar nie een van die drie rugbyboeke wat ek op my Kindle toepassing afgelaai het, kon my aandag hou nie. Ek sweer ek kon beter doen. Net daar en dan het ek my notas oopgemaak. Teen die tyd dat ons in Johannesburg land, het ek sommer vyf boeke beplan. Daardie Maandag het ek die muse saam met my vuil wasgoed uitgepak en begin skryf. Nee, my eerste pogings was pateties maar ek het aanhou skryf, in 2017 ‘n skryfkursus gedoen en in 2018 ‘n kontrak met ‘n uitgewer in New York gehad vir drie boeke waarvan my debuut in April 2018 gepubliseer is. Gelukkig het die passie, sedert ek daardie eerste boek in 2018 gepubliseer het, nog nie verflou nie. Deesdae skryf ek meer in Afrikaans, met 20 boeke op die rak en nog 17 in Engels.


Die kuns van liefde

Dis nie so maklik om liefdesverhale te skryf soos wat dit klink nie. Jy moet kreatief wees, akkuraat en toegewyd wees om egte stories te kan skep. As skrywer kan ek my verdiep in navorsing. Ek kry my inspirasie van verskillende kulture, tye en regte lewensverhale. Die wêreld wat ek vir my karakters skep moet so wees dat die leser daarin kan wegraak. Dit maak nie saak of dit afspeel op ‘n spierwit strand in Mauritius of ‘n wit Kersfees in Skotland nie. Die leser moet kan voel hy is saam met die karakters daar waar hul hulle sielsgenote vind. Liefde kan mos op enige plek gebeur, of dit nou op ‘n plaas in die Karoo is of ‘n besige New York-sypaadjie.


Die karakters kry lewe

Die belangrikste deel van liefdesverhale is seker karakterontwikkeling. Die karakters moet eg en goed-ontwikkeld wees sodat hulle daardie emosies kan ontlont waarna lesers soek. As skrywer moet ek hul hoop, vrees, drome en hul kwesbaarheid verstaan sodat ek ‘n sterk verhouding kan skep en help dat lesers in hul glo. Die tyd en kuns wat ek in hulle emosionele ontwikkeling sit maak dat lesers voel asof hulle nie slegs iemand anders se storie lees nie, maar self op ‘n reis van ontdekking en hartseer en liefde gaan.


Tussen die blaaie van my boeke is my doel om lesers saam met my op ‘n reis na ‘n ander wêreld te neem waar enigiets moontlik is. In die hartjie van Denver of in ‘n kasteel in Skotland of onder die Jakarandabome in Pretoria – dit maak nie saak nie. Elke wêreld wat ek skep word doelbewus gedoen om emosies en verbeeldings aan te wakker. Lesers moet die tasbare aantrekkingskrag tussen die karakters kan aanvoel wanneer hulle op hierdie ongelooflike reis om liefde te vind, vertrek.


Hoekom liefdesverhale?

My uiteindelike doel met elke boek is om lesers se harte aan te raak. Ek wil hê hulle moet weer glo in die krag van liefde. Hulle harte moet bons van afwagting, en hulle moet dieselfde tasbare emosies ervaar as my karakters. Ek hoop as lesers by daardie laaste bladsy in die boek kom en dit toemaak, hulle weer opnuut hoop en inspirasie en geloof gaan hê dat liefde alles oorwin.


Dus, welkom by my blog, ‘n plek waar die kuns van romanse ‘n stem kry. Deur my platform gaan ek my gedagtes, kennis, insig en ervaring as ‘n romanse skrywer met julle deel. Kom saam met my op ‘n reis na die wonderlike wêreld van liefde.


Tot volgende keer,


Francine




10 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page