top of page

My gunsteling romantiese flieks

Die liefde is ‘n taal wat oor baie grense en kulture strek. Net soos skrywers probeer filmmakers die essensie van liefde in sy verskillende vorme weergee. Dit wissel van hartroerende stories wat met die kykers kan resoneer. Romantiese flieks het die manier om ons weer te laat glo in liefde.


Dit was moeilik om net tien te kies (ek wou eers net vyf kies!). Dit sou nooit as te nimmer werk nie. Daar is net te veel! Ek het nou maar so ‘n paar gekies – party ou films (want ek hou van ou flieks), en so ‘n paar nuwes. En nee, ek resenseer nie. En dis ook nie in enige volgorde nie. Dis net 'n lysie.


1. Semi-Soet

Jaci is ’n selferkende werkolis wat alles in haar vermoë sal doen om te keer dat die advertensiemaatskappy waarvoor sy werk deur ’n genadelose sakeman bekend as ‘The Jackal’ oorgeneem word. Haar enigste hoop is om ’n groot kontrak los te slaan vir ’n wynlandgoed wat hul wyne internasionaal wil bemark. Makliker gesê as gedaan, veral as die wynboer vereis dat die persoon wat sy wyn gaan bemark in ’n gevestigde liefdesverhouding moet wees.


Uit desperaatheid besluit Jaci om ’n model te huur om hom voor te doen as haar verloofde. Gevolglik neem sy aan dat die eerste aantreklike man wat by hulle kantore instap deur die modelagentskap gestuur is.


Als blyk seepglad te verloop met die ontmoeting met die wynboer, totdat hy vir Jaci en haar ‘verloofde’ wynplaas toe nooi vir ’n naweek waartydens sy teen die opposisie sal moet meeding vir die kontrak. En wie is die opposisie? Jaci se eks-verloofde, Markus Rossouw.


Net wanneer Jaci dink dat sy in volle beheer is besef sy dat haar kamstige verloofde, JP, die einste ‘Jackal’ is wat haar maatskappy probeer sink.

2. Snip en Rissiepit

Wat gebeur as twee studente wat mekaar nie kan verdra nie, verlief raak? Dis die storie wanneer Kraai, 'n verwende rykmansdogter, en Jurie Anker, 'n maplotter, ná ´n universiteitsvakansie op die stasie ontmoet en hul lewens teësinnig verweef raak.


3. Sondag in September


4. Pad na jou hart

Pad na jou hart is ’n Afrikaanse romantiese-avontuurkomedie oor ’n jong, aantreklike en selfvoldane sakeman wat vyf dae het om by sy pa se begrafnisdiens in Kaapstad uit te kom. Hy moet egter sekere take voltooi op hierdie reis voordat hy die suksesvolle familie-maatskappy kan oorneem. Sy enigste kans om betyds daar aan te kom, is ’n saamrygeleentheid met die beeldskone boheemse meisie.


5. French Toast

Die rolprent handel oor fotograaf Lise le Roux (Lika Berning) wat saam met haar pa op 'n wynplaas naby Stellenbosch woon. Lise se ma, wat lank gelede oorlede is, het as simbool van haar nagedagtenis 'n geheime familieresep vir Franse braaibrood nagelaat.


Op 'n reënerige dag ontdek Lise haar ma se ou dagboek en vind tot haar verbasing uit dat sy ‘n broer of suster iewers in Frankryk het. Ondanks die feit dat Theo, haar pa se regterhand-wynmaker, op die punt staan om haar te vra om te trou, besluit Lise om na Parys te vertrek op soek na haar broer of suster en hopelik 'n stukkie waarheid oor haar ma uit te vind.


In Parys ontmoet Lise 'n Franse sjef, Jean-Pierre Baptiste. Jean-Pierre soek ‘n fotograaf vir sy nuwe kookboek. Lise stem in om die foto's vir sy boek te neem mits hy haar help om leidrade te volg om haar verlore broer of suster op te spoor.


Terwyl hulle Parys saam verken, ontdooi Jean-Pierre se warm spontane persoonlikheid Lise se koel terughoudendheid. Lise se lewe verander in 'n palet van nuwe smake, teksture, kleure en emosies, totdat daar skielik iets gebeur wat meebring dat Jean-Pierre verdwyn nadat hy vir Lise laat belowe het dat sy nie na hom sal soek nie. Lise ontdek uiteindelik die waarheid wat sy gehoop het haar vry sou maak.


6. Môre, Môre

Die verhaal speel af op 'n klein plattelandse dorpie en gaan oor Lena, 'n matriekmeisie wat op haar onderwyser verlief is. Die optrede van die mense op die dorp is ook kleinlik en genadeloos. Een van die skoolseuns se jaloesie oor dié verhouding bereik 'n hoogtepunt toe hy tydens 'n sportbyeenkoms probeer om die onderwyser met 'n spies dood te gooi.


7. Liefling (die movie)

Liefling (die movie) is 'n Afrikaanse rolprent wat op 19 November 2010 in teaters landwyd in Suid-Afrika begin draai het. Die rolprent is van Engelse onderskrifte voorsien om dit vir 'n wyer gehoor toeganklik te maak.


Liefling is deur Linda Korsten, Gé Korsten se dogter, vervaardig en sy het dit aan hom opgedra. Bryan Webber is die regisseur. Die rolprent se webtuiste beskryf dit as die eerste grootskerm Afrikaanse musiekblyspel ("musical") in meer as 30 jaar.


8. Klein Karoo

’n Jong onderwyseres van Oudtshoorn, Cybil Ferreira, sal enigiets in haar vermoë doen om te verseker dat haar projek by die plaasskooltjie Kalfieskraal voortgaan. Die grond waarop Kalfieskraal gebou is, is te koop en die potensiële kopers stel nie in die projek belang nie. So kom Frans Coetzee in die prentjie. Frans is ’n rolprentvervaardiger met ’n gebroke hart, wat in die Klein-Karoo is om saam met sy span ’n dokumentêr oor opheffingswerk in die omgewing te maak - en hopelik in die proses te vergeet van liefde, vrouens, en al die moeilikheid wat daarmee gepaardgaan. Cybil en Frans se paadjies kruis en beide se wêrelde word totaal omver gegooi.


9. Geel trui vir ‘n wenner

Die rolprent speel af tydens die jaarlikse internasionale Rapport Toer in fietsry. Twee broers ding soos Kain en Abel teen mekaar mee. Nie alleen vir die gesogte wennerstrofee nie, maar ook vir 'n meisie wat altwee se harte gesteel het. 'n Jong kampioen moet oornag leer om die wrede werklikheid van die grootmenslewe te aanvaar.


10. Vir Altyd

Nina (Roberts) en Hugo (Botha) is beste maatjies van kindsbeen af. Na Hugo wegtrek en Nina alleen is, neem hierdie film ‘n onverwagte draai. Na ‘n eilandvakansie op Mauritius, saam met twee heeltemal uitlopende paartjies kom Nina tot ‘n groot besef. Die liefdespaadjie maak soms snaakse en onbeplande draaie met ‘n mens.



Ek het gesê ek kies net tien, maar dan sien ek elke keer nog 'n fliek en nog 'n fliek, dan kan ek nie kies nie. Dink nou maar net aan flieks soos Liefling, Platteland, Dr Marius Hugo, 'n Pot vol Winter, French Toast, Klein Karoo en ander.


Ek is sommer nou lus en begin hulle almal van voor af kyk.


So, nou weet julle hoe soetsappig ek is. Maar dis mos hoekom ek liefdesverhale skryf!


Hoop julle geniet my keuses ook. Laat weet my gerus as julle ander het wat ek op my toekomstige lysies moet voeg!


Groete


Francine





8 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page