top of page

Woeker met Woorde: Hoe om skrywersblok te oorkom

Elke skrywer sukkel soms met skrywersblok. Party s'n duur net langer as ander s'n. Maar wat is skrywersblok?


Dit beteken dat jou kreatiewe proses soos mis voor die son verdwyn het of dat jy glad nie enigsins produktief is nie. Dit is frustrerend. Jy het geen motivering nie en twyfel aan jou eie vermoëns. Dit is belangrik om te verstaan hoekom jy skrywersblok kry sodat jy strategieë kan vind om die hekkie te oorkom en weer te begin skryf.


WAAROM KRY MENS SKRYWERS-BLOK?

Daar is ‘n hele paar redes, maar seker een van die grootste redes is die druk op perfeksie en verwagtinge. Partymaal stel ons onrealistiese standaarde en doelwitte vir onsself om die drang na sukses te bevredig. Dit veroorsaak angs wat kreatiwiteit onderdruk en voorkom dat jy projekte voltooi.


Dan is daar natuurlik vrees en ‘n gebrek aan selfvertroue. Skrywers is bang dat hul werk nie aan hul eie hoë standaarde of die van hul lesers sal voldoen nie.


Leer ken jouself. Verstaan en weet watter gedragspatrone jy ervaar om ‘n gesonde balans te handhaaf. Vir elkeen van ons is dit anders. Indien jy bedag is daarop, kan jy dit identifiseer voor dit te groot probleem word.


Ek sukkel byvoorbeeld om te skryf wanneer ek te veel hooi op my vurk het. Ek stres my dood oor alles wat gedoen moet word, dat ek nie kan fokus op die belangrikste deel van ‘n skrywer se loopbaan is nie, en dis om te skryf. Ek moes dus meermale een of meer van die metodes soos hieronder genoem, gebruik.



WAT KAN JY DOEN OM SKRYWERSBLOK TE OORKOM?

Wat kan jy doen om skrywersblok te oorkom behalwe om jou pen weg te gooi of erger nog, jou rekenaar teen die muur te smyt? Hier is ‘n paar metodes wat ek gebruik of gebruik het:


Kyk na jouself

Jy moet nie net fisies nie, maar ook geestelik na jouself kyk. Eet gesond. Slaap genoeg. Oefen gereeld en probeer tegnieke soos joga en meditasie om jou te help ontspan. Dit is belangrik om soms ‘n breuk te neem. En miskien 'n KitKat. Maak vir jou 'n koppie tee. Gaan stap. Doen iets wat jou laat ontspan soos musiek luister, of lees of iets dergeliks.


Vind ‘n nuwe perspektief

Kry ‘n spasie waar jy kan fokus en konsentreer. Elkeen moet vind wat vir hom goed werk, al is dit in ‘n stil kafee of in die park. Jy moet egter verseker dat daar nie te veel dinge is wat jou aandag aftrek nie, sodat jy jou aandag slegs op jou werk kan fokus. Mense moet jou nie te veel pla nie en daar moet nie te veel geraas wees nie. En bly weg van sosiale media.


Tog, wanneer daardie skrywersblok jou beetkry, is dit dalk ‘n goeie idee om die omgewing waarin jy werk, te verander.


Ek skryf die beste op my rekenaar - in stilte - maar soms neem ek myself uit my gemaksone en gaan skryf in 'n koffiewinkel net soos JK Rowling. Of ek gaan sit in die tuin met pen en papier. Ek het al by ‘n oggendmark gesit en skryf, of op ‘n lughawe terwyl ek wag vir my vlug. Skryf oor wat jy hoor en sien en ervaar deur jou vyf sintuie te gebruik. Ek het al sulke tonele in van my boeke gebruik, al was dit nie oorspronklik daarvoor bedoel nie.


Omring jouself met inspirasie

Die plek waar jy skryf moet jou vul met inspirasie. Versier dit met goed wat jou inspireer soos motiverende aanhalings, kunswerke of boeke deur jou gunsteling skrywers. Skep vir jou ‘n visuele omgewing wat jou kreatiwiteit en passie reflekteer en jou weer met entoesiasme na jou skryfwerk laat kyk. Behalwe die bogenoemde, gebruik ek ook ‘n ‘moodboard’ of inspirasiebord vir die projekte waaraan ek werk.



Kom uit jou gemaksone

Mens kyk egter soms so vas teen dit wat jy gewoond is om te doen, dat jy niks verder sien nie. Skryf iets wat geensins in jou genre is nie. As jy gewoond is om in derde persoon te skryf, skryf in eerste persoon. As jy verlede tyd skryf, skryf in die hede. Ek het nog nie die ‘ander’ skryfwerk in ‘n manuskrip gebruik nie, maar dit het my ‘n ander perspektief op my skryfwerk gegee.



Stel ‘n roetine vas

‘n Roetine gee jou struktuur en help jou motiveer. Dit help jou om meer produktief te wees. Probeer om vir jou spesifieke tye elke dag of in die week uit te blok wanneer jy kan skryf en probeer sover moontlik daarby hou. ‘n Roetine help jou om jou brein gewoond te maak om in daardie spesifieke periodes op skryf te konsentreer.


Vir my is die lekkerste skryftyd tussen 03:00 en 06:00. Dit het begin toe my kind nog op skool was, en ek in stilte wou skryf voor almal wakker word, en aandag wou hê. Dit was my tyd. Ek word nou nog daardie tyd wakker, dan is my brein gereed om te skryf. Ek hoef nie meer so vroeg op te staan nie, maar ek staan wel op, skryf, en gaan klim soms terug in die bed. Dis die voordeel van ouer word en nie ‘n vaste roetine verbonde van werk en skool te hê nie. Maak nie saak wanneer en hoe lank dit is nie. Dis belangrik om daardie skryftydjie vir jouself af te knyp.



Kry ondersteuning in die skrywersgemeenskap

‘n Ondersteunende skrywerskring is van onskatbare waarde. Soek na skrywersgroepe, werkswinkels en aanlyn groepe waar jy jou werk kan deel, terugvoer kry en ‘n netwerk opbou van mense wat soos jy dink. Dis partymaal goed om met iemand anders oor jou projek te praat. Bes moontlik kan hulle jou 'n ander perspektief of raad gee. Ek kan nie genoeg dankie sê vir my paar skrywersvriende wat ek as klankbord kan gebruik nie.



Hou 'n dinkskrum

- met jouself. Maak 'n lys van moontlike onderwerpe, temas, of plot-idees wat jy kan gebruik wanneer jy skryf. Skep vir jou 'writing prompts' om jou kreatiwiteit weer 'n hupstoot te gee. Of, gaan soek op die internet na idees. Pinterest het baie borde met sulke idees om jou kreatiwiteit aan te wakker.



Vind inspirasie op ander plekke en in ander aktiwiteite

Vind inspirasie deur te lees, navorsing te doen of aktiwiteite te doen wat jou inspirasie kan aanwakker. Teken, skilder of neem foto's as inspirasie.


Of doen iets wat jou karakter sou doen. Byvoorbeeld, soms maak my karakters kos - ek maak dan daardie dis wat my karakter maak. Terwyl ek besig is en kort daarna, maak ek notas. Loop iets verkeerd? Vergeet ek om op die kos te konsentreer en brand dit aan? (Ek het al sop gebrand!) Is daar te veel sout in die dis? Onthou, jou karakters is menslik en kan ook foute maak. Weer gebruik ek my sintuie om dinge te beskryf, soos die aroma van die dis, en hoe dit lyk as jy dit opdien? Hoe lank neem dit jou? Dit is klein dingetjies wat jou storie outentiek maak. Gebruik ek dit altyd in my manuskripte? Nee, maar dit het beteken ek het geskryf, en dis wat tel.



Skryf sonder om bang te wees.

Moenie bekommerd wees oor foute maak nie. Skryf wat in jou gedagtes opkom en kyk waar dit jou neem. In Engels word die terme ‘freewriting’ of ‘stream-of-consciousness’ gebruik om te help dat jy verby daardie innerlike kritikus kom en jou idees toelaat om vrylik te vloei. Die tegniek beteken dat jy aanmekaar moet skryf sonder om jou te bekommer oor grammatika, spelfoute en of dit sin maak. Dit is ‘n opwarmingstegniek om jou brein te stimuleer en nuwe gedagtes te genereer. Partymaal is veral nuwe skrywers, so bang hul doen dit verkeerd. Mens kan so fokus op die reg doen, dat jou kreatiwiteit in die slag bly. Skryf net. Jy kan dit altyd later regmaak.



Stel realistiese doelwitte

Dit is belangrik om realistiese doelwitte vir jouself te stel. Breek groter skryfprojekte op in kleiner take wat jy makliker kan hanteer. Stel vir jouself doelwitte om die take te voltooi. Indien jy vir jou ‘n doel stel wat makliker is om te bereik, gaan jy voel asof jy iets bereik het. Dit sal jou verder motiveer en inspireer.


Ek het die fout gemaak om vir myself die doel gestel om twaalf stories in ‘n jaar te publiseer. Die eerste jaar was dit maklik, want ek het reeds twaalf stories gehad. Die tweede jaar was dit egter baie moeiliker, want nou moes ek nie net skryf nie, maar ook ander pligte as ‘n onafhanklike uitgewer behartig soos bemarking, statistiek, ensovoorts. Iewers gaan jy die pap op die grond laat val. Ek is nou meer realisties. Ek sal vir my ‘n doelwit stel om een boek te voltooi op ‘n slag. Ek weet wat is die vereiste aantal woorde wat ek moet skryf en wanneer dit moet klaar wees. Wanneer my beplanning klaar gedoen is, en ek min of meer uitgewerk het wat ek wil skryf, pak ek die boek aan, een toneel op ‘n slag. Nie ‘n hoofstuk nie. Nie 'n moet-2000 woorde ‘n dag nie. Net ‘n toneel op ‘n slag. Party dae vloei dit en dan skryf ek vyf tonele of sommer 8000 woorde. Dis daardie dae wat my motiveer om môreoggend weer aan die skryf te kom, want ek weet voor my heilige siel daar gaan ‘n dag kom wat ek nie eers 200 woorde gaan skryf nie.



Vier elke mylpaal

Vier elke mylpaal wat jy behaal, want dit sal bydra tot jou sukses. Daardie viering kan klein wees, soos iets om jouself mee te bederf deur 'n koffie by jou gunsteling koffiewinkel te gaan drink. Met dalk 'n groot stuk sjokoladekoek daarby.


Toe ek baie gesukkel het met skrywersblok tydens COVID, het ek vir my suster R200 gegee en vir haar gevra om elke keer wat ek my doelwit behaal, vir my ‘n geskenkie te gee. Partymaal was dit ‘n snaakse pen, ‘n notaboek of ‘n sjokolade.


Omdat ek nie geweet het wat om te verwag nie, was dit elke keer ‘n verrassing en het ek uitgesien daarna. Dit het dit weer pret gemaak om te skryf en ek het uitgesien na my bederfie.



OPSOMMING

Om mee af te sluit, skrywersblok is ‘n algemene en frustrerende hekkie wat skrywers op alle vlakke in een of ander stadium in hul loopbane mee sukkel. Om die strategieë en tegnieke hierbo te gebruik, kan jy daardie kreatiewe verlamming oorkom en die woorde weer laat vloei.


Onthou ook net: nie al die tegnieke werk vir almal nie. Jy moet vir jouself uitwerk wat vir jou gaan werk.


Ek hoop dit help


Tot volgende keer


Francine




13 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page