top of page

Van pen tot papier: 'n Onderhoud met Bets Smith

Vandag kuier ek weer - natuurlik virtueel, ongelukkig - saam met romanskrywer Bets Smith wat deesdae die lieflike Suidkaap haar huis noem. Bets was so gaaf om haar gunsteling sjokoladekoek saam te bring en ek kon haar arm draai om haar resep met ons te deel.


Soos ek nou al uit ondervinding geleer het, kan ons skrywers baie praat wanneer ons eers begin, veral as dit oor ons boeke en die liefde gaan. Ek het sommer reguit pens en pootjie met die deur in die huis - oftewel die virtuele koffiewinkel - geval en haar gevra wat haar geïnspireer het om te skryf.

Omdat my ouers ons met stories grootgemaak het en albei ywerige lesers was, het dit die wonderwêreld van boeke vir my oopgemaak.


Hoekom dan juis romanse?

My romantiese hart het my op romanses laat fokus. As deeltydse onderwyser by die plaaslike hoërskool het ek gewonder of ek self ’n storie sal kan ‘skep’. Groot was my verbasing toe Gert Basson van JP Van der Walt-uitgewers die manuskrip gunstig ontvang. Dit het my aangemoedig om vol te hou.


Nou hoe lank skryf jy al?

Ongeveer 26 jaar.


Sjoe, dis al 'n rukkie. Watter jaar het jy dan begin?

In 1996


Jy het dus heelwat ondervinding. Watter advies sal jy ‘n nuwe skrywer gee wat nou net begin?

As dit jou droom is, moenie dat enigiemand jou teëhou nie. En moenie kritiek van kenners persoonlik opneem nie: sien dit as hul opinie, en ’n leergeleentheid.


Hoe hanteer jy skrywersblok?

Nie baie goed nie 😊


Moet soveel jaar se skryf agter die blad het jy seker al 'n hele paar boeke gepubliseer. Hoeveel is dit nou al?

29 (waarvan 2 hardebande herskryf en gemoderniseer is vir KINDLE KDP)


Dan gaan dit seker nie maklik wees om jou gunsteling karakter van die wat jy al geskryf het te kies nie?

Ek raak nogal verknog aan al my heldinne omdat ek nie graag karakters skep waarmee ek nie kan identifiseer nie. Tog was Mieke in Die Verste Ster tot dusver my gunsteling, want haar storie was die heerlikste een om te skryf. Maar ek moet sê Ena (in Ena se geheim op Kindle KDP) is net ’n kortkop agter haar.


Ek weet baie skrywers wil nie graag hierdie vraag antwoord nie maar is jy 'n plotter of 'n pantser?

Ek probeer plot, maar my karakters is balhorig en foeter voortdurend in die verkeerde rigting, weg van die beplande plot. Omdat ek die plot te dikwels by karakters se giere moet aanpas, trek ek nie meer ’n formele raamwerk op nie.


Haha, dit klink nogal bekend. Maar sê my, watter boek het jy die meeste geniet om te skryf?

Die Verste Ster, maar ’n Seldsame Man is ’n kortkop agter hom. ’n Ridder vir Améli wat in September 2022 verskyn, is my eerste fantasie. Dit was ook nogal ’n heel nuwe ervaring.


Wat verskyn volgende uit jou pen en wanneer?

My nuutste spanningsroman by LAPA is Rooigety wat in Julie 2022 verskyn, (’n opvolg op Dooiegety wat in 2018 verskyn het) en my nuutste romanse is ’n Ridder vir Améli wat in September verskyn, ook by LAPA. Tans werk ek ook aan ’n storie vir selfpublikasie op Kindle KDP. Die werkstitel is Son en Saffier.


Wat is die titel van jou jongste boek?

My jongste romanse vir selfpublikasie is Son en Saffier, maar dis nog ver van klaar.


Het jy enige navorsing vir hierdie boek gedoen en as jy het, wat het dit behels?

Ek het wel navorsing gedoen oor dolfyne en hul aanwending vir terapie.


Waar kry jy jou inspirasie vir die manuskripte?

Ons bly die afgelope vier jaar reeds aan die kus, wat die agtergrond en inspirasie is vir die romanse. Maar ’n kaping was die inspirasie vir die spanningsroman. Terwyl ek aan die stories werk, bring navorsingsresultate dikwels ’n nuwe wending in die verloop van gebeure.


Is daar enigiets waarop jy hierdie jaar wil fokus?

Ek wil beslis daarop fokus om meer produktief te skryf.


Wie is jou gunsteling skrywer en hoekom?

Daar is deesdae soveel dat dit moeilik is om een uit te sonder, maar ek verkies fiksie bo enige ander genre.


Wat lees jy nou?

Blinde gode van Dibi Breytenbach


Watter boeke of ander skrywers het jou eie skryfwerk die meeste beïnvloed?

Die boeke van Eleanor Baker, veral Weerkaatsings, het beslis die meeste van my romanses beïnvloed.


Het jy ‘n biblioteekkaartjie?

Ja.


Hoekom het jy besluit om self te publiseer?

Die idee om self te publiseer het gekom van Rika du Plessis wat jare reeds haar hardebande onveranderd as Kindle e-boeke publiseer omdat dit nie as e-boeke beskikbaar was nie. Omdat my ou hardebande ook net stof vergaar het ek gewonder of hulle nie nog ’n paar sent kan verdien nie. Met die tik van Kronkelpad na Liefde het ek agtergekom hoeveel my taal en skryfstyl verander het. Daarom het ek besluit om die storie te herskryf, te moderniseer, redigeer en plek-plek heeltemal te verander. Ek is beslis nie spyt daaroor nie want dis nou baie meer geskik vir die moderne vrou.


Kom ons kom so bietjie weg van die skryfwerk. Ek is nuuskierig: wat was jou gunsteling vakke op skool?

Duits en Geskiedenis.


Wat doen jy as jy nie skryf nie? Hoe ontspan jy?

Ek stap baie graag in die natuur, want die stilte en bedrieglike eenvoud daarvan, inspireer my.


Wat wou jy graag gewees het toe jy jonk/klein was?

’n Spioen (dit was in my spioenasieverhaal-fase 😊)


Het jy iemand wat jy as 'n rolmodel of 'n held of heldin sien, iemand wat jou inspireer?

My man is my held, want hy laat my toe om my giere en absurditeite uit te leef. Hy is ook die inspirasie vir die meeste van my helde.


Kom, net vir die pret, speel saam

Kleur: Blou

Seisoen Almal

Blom: Laventel

Parfuum: White Lace

Liedjie: Catching Cars van Snow Patrol

OF DIT OF DAT?

Koffie of tee? Tee

Warm of koud? Warm

Fliek of lees? Lees

Oggend of aand? Oggend

Stort of bad? Stort

Stad of platteland? Beslis platteland

See of woud of berge? Al drie

Uur vroeg of twintig minute laat? Uur vroeg

Sosiale media of boek? Boek

Hardeband, sagteband of eboek? Sagteband


Ek het vroëer genoem dat Bets haar gunsteling sjokoladkoekresep met my gedeel het. Hier is dit, indien julle self wil proe hoe heerlik dit is:


Bets Smith (geb. Malan) is ’n Hoëvelder gebore (Vereeniging) en getoë (sedert st 4 in Middelburg, Mpumalanga). Het studeer by Tukkies (BA, HOD) en het by die SAW Argief gewerk terwyl ek Honneurs in Geskiedenis by Tuks voltooi het. Is in 1980 getroud, verhuis na Hartswater in die Noordkaap, maar verhuis in 1986 na Witrivier en woon daarna vir vier en dertig jaar in die Laeveld.

Ná 27 jaar van skoolhou by Rob Ferreira Hoërskool in Witrivier groet ek aan die einde van 2016 die onderwys en verhuis twee jaar later na die Suidkaap. Tans woon ek en Pieter in Reebok.


Waar ek my ook al bevind, sal ek graag nog ’n paar jaar wil aanhou skryf. Ek sal moet, want volgens my kinders is ek ʼn tipiese onderwyser wat dit geniet om feite te manipuleer en vakinhoud oor te dra. En dis tog wat ’n skrywer doen, al is die feite verbeeldingsvlugte.


Volg Bets gerus:





4 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page