top of page

Van pen tot papier: 'n Onderhoud met Felicia Snyman

Vandag kuier ek saam met Felicia Snyman, wat geen bekendstelling het onder liefhebbers van Afrikaanse liefdesverhale nie. Die egskeidingsprokureur en akademikus, laat nie die minder mooi dinge wat sy in haar werk ervaar, haar natuurlike passie vir die liefde onderkry nie.



Wanneer is jou publikasiedatum?

Die laaste boek in die Verweefde liefde reeks, In sy hart, het so pas in Januarie 2021 verskyn.


Vertel ons bietjie meer oor jouself

Ek is gebore as Felicia Snyman en het in die industriële dorp, Springs groot geword. Ek is ʼn prokureur, wat met een voet in praktyk en een in die akademie staan. Ek is einde laasjaar met die liefde van my lewe getrou en het ʼn pragtige dogter ryker geword. Ons woon saam met my Boston Terriër, Riley in Vanderbijlpark. Ons verwag ook ʼn toevoeging tot ons gesin wat in April 2021 sy debuut gaan maak.

Daar het sover nege titels onder my eie naam verskyn, waarvan die tiende een in Januarie 2021 op die rakke verskyn.

Ek is versot op Boston Terriërs en besit ʼn wye verskeidenheid items. Ek glo tee maak enige iets beter, selfs ʼn gebroke hart.


Wat is die titel van jou jongste boek? Wat het jou geïnspireer om dit te skryf?

My jongste gepubliseerde boek is, In sy glimlag. Nadat ek besluit het om die reeks, Verweefde liefde, te begin het ek geen ander keuse gehad as om vir Analene haar eie liefdesverhaal te skryf nie. Sy was ʼn heldin wat waardig van ʼn storie was. Ek wou ook graag die stigma van beroepe aanspreek en haar held moes net ʼn rugbyspeler, met ʼn groot hart wees.


Hoekom het jy besluit om romanse te skryf?

Die liefde is nog altyd die magic waarin ek glo. My ouers is steeds na ses en dertig jaar gelukkig getroud. Wat ʼn voorbeeld van ware liefde. My ma en ouma het boeke, veral liefdesverhale, verslind. Ek en my sussie het gou ʼn groot liefde vir lees ontwikkel en die romanse het kort op sy hakke gevolg.

In my professionele lewe het ek te doen gehad met heelwat hartseer tydens egskeidings. Daar was soveel potensiaal in die begin van die verhale wat mense vertel het. Ek wou graag vir elkeen ʼn happily ever after skryf.


Het jy enige navorsing vir hierdie boek gedoen en as jy het, wat het dit behels?

Ek het ʼn bietjie navorsing gedoen ten opsigte van die karakters se beroepe. My swaer is ʼn rugbyafrigter en kenner en hy moes my vrae geduldig beantwoord, en soms my mallighede intoom kry. Ek het ook heelwat opgelees oor kwalifikasies en met mense gesels wat oor dieselfde kwalifikasies beskik. Dit is vir my belangrik om akkurate feite weer te gee en werklik te weet wat die karakter daagliks by die werk sou doen.


Hoe kies jy name vir jou karakters?

Ek kry altyd ʼn letter waarvan ek hou. My ma help my gewoonlik met voorstelle. Daarna vors ek die betekenis van die name na. Die naam moet by die karakter se wese pas en sodra ek die regte betekenis kry, weet ek dit is die karakter se naam.


Waar kry jy jou idees vir jou stories? Organiseer jy hulle?


Hierdie gaan klink asof ek moontlik maller is as wat mense gedink het, maar my karakters begin met my praat. Hulle warrel in my kop rond. Enige iets kan dit aan die gang sit – ʼn snaakse voorval, iemand se verhaal wat hulle vir my vertel, ʼn toneel in ʼn koffiewinkel. Die oomblik wat die karakter/s eers in my kop begin maal, begin die storie ontwikkel. Die idees stroom in, wat ek dan in volgorde moet rangskik ten opsigte van watter idee of gebeurtenis pas by hierdie spesifieke karakter.

Ek is oldschool. Ek skryf my karakters (name, beroepe, uiterlike en innerlike samestelling), storielyn en bykarakters met die hand op papier neer en plot die hele storie op my witbord uit. Daarna begin ek skryf. Ek skryf ook nie uit volgorde uit nie. My storie vloei van begin tot einde.


Hoe lank het dit jou geneem om die boek te skryf?

Wanneer ek op my bas sit en skryf, skryf ek uiters vinnig. Dit het my om en by drie weke geneem om die boek klaar te skryf.


Wat kan ons volgende van jou verwag?

Ek is besig met ʼn manuskrip waarin twee uiteenlopende beroepe, waaraan ʼn stigma gekoppel word, mekaar in die oë gaan staar. My heldin is ook beslis nie my gewone afgerondte dame nie, maar sy gaan die lesers se denke omkeer. Die held is lank, fors en sterk, maar daar is ʼn broosheid aan hom waarop elke leser verlief wil raak.

Daar is ook ʼn ander genre waaraan ek al ʼn geruime tydjie werk en wat die opgewondheid in my laat opstoot.


Kort bio

Felicia Snyman is romanse skrywer wat in Springs gebore is, waar sy haar skoolloopbaan suksesvol voltooi het. Sy het na skool haar LLB met lof by die Universiteit van Pretoria verwerf, waar sy ook haar eerste werkservaring as akademiese medewerker opgedoen het. Felicia het ʼn meestersgraad in Handelsreg, spesifiek Arbeidsreg en Sosiale beskerming aan die Universiteit van Pretoria met lof verwerf het. Sy het as algemene praktisyn gepraktiseer en is steeds ʼn konsultant op die praktiserende rol van prokureurs. Haar liefde vir lees het oorgegaan in die passie om ander te leer en het as regsdosent doseer. Sy het al by talle internasionale konferensies aanbiedings en referate gelewer en is ʼn geakkrediteerde mentor. Haar belangstellings in die bevordering van taal en redenasie is verder uitgebrei deurdat sy verskeie universiteits- en skoledebatskompetisies beoordeel het. Sy is ook ʼn geregistreerde besigheidsreddingspraktisyn en beskik oor ‘n teachers kwalifikasie in modellering. Haar persoonlike prestasies in modellering, ballet, ballroom, latin en musiek maak haar ʼn vrou van vele talente. Felicia spog as ʼn gepubliseerde skrywer in die liefdesgenre met verskeie titels onder haar eie naam. Meeste van die inspirasie vir haar skryfwerk spruit uit haar werk as ʼn egskeidingsprokureur en gesprekke met haar hartsmense. Sy sien die hartseer gedeeltes van ander raak waarin daar soveel potensiaal vir ʼn gelukkige einde opgesluit lê. Sy is geseën met ʼn sprokiesliefde en het met die liefde van haar lewe getrou. Felicia het ook ʼn dogter deur hierdie huwelik ryker geword. Hulle woon nou saam met haar Boston Terriër, Riley, vir ewig gelukkig saam.


Skakels na:



13 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page